Crime

Vrae na moord in Polokwane

Dit blyk dat Justin de Freitas (32) wat aan die begin van Julie in Polokwane vermoor is, na dieselfde motorfietsklub gevry het as die een waaraan sy vermeende moordenaar behoort.

Middelburg inwoner, Paul “Reaper” Carr (42), het in die hof in Polokwane op aanklag van moord verskyn. Hy is op borg van R1 500 vrygelaat.

Carr, wat lid van die Red Devils Motorfietsklub is, word daarvan verdink dat hy De Freitas met ‘n mes in die bors gesteek het, terwyl beide mans by die Soetdorings Buiteklub was vir ‘n motorfietssaamtrek. De Freitas sou die dag van sy dood sy klere van die Red Devils ontvang.

Die nadoodse ondersoek het vermoedens van ‘n fisiese geveg tussen De Freitas en Carr as onwaarskynlik afgemaak, omdat daar geen tekens van fisiese letsels, anders as vir die steekplek aan sy bors, by De Freitas was nie.

Hy is vermoedelik in die bors gesteek na ‘n woordewisseling toe hy oppad na sy voertuig was, nadat hy by die buiteklub as kroegman uitgehelp het.

‘n Foto van bebloede klere wat aan De Freitas behoort, is in die Middelburg Observer se besit. ‘n Bron na aan die ondersoek is bekommerd omdat die klere nie as bewysstukke bewaar word nie.

Volgens inligting van die bron moes die polisieman wat eerste op die toneel was, ook nie daar gewees het nie. Soetdorings Buiteklub val onder die Westernburg polisiestasie, die polisieoffisier op die toneel is egter van die Polokwane polisiestasie afkomstig.

Hy het aan die bron gesê dat hy Carr opgespoor het nadat hy ‘n jong seun wat bloed aan sy klere gehad het ondervra het. Carr moes gekalmeer word voordat hy gearresteer is.

“Niemand weet presies wat daai aand gebeur het nie en hoekom die outjie doodgesteek is nie. Maar ek kan jou belowe daar steek iets agter hierdie voorval,” sê die bron.

• Die Hell’s Angels, waarvan die Red Devils ‘n ondersteunersklub is, het ‘n versoek om kommentaar te lewer van die hand gewys.

• Carr, wat alombekend staan as Reaper, is ‘n oud polisieman wat al as huursoldaat in die Midde-Ooste, onder andere Afganistan, werk gedoen het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button