Viagra by apteek gesteel
Boewe het ondermeer Viagra, natuurlike seksopkikkers en 25 ampules morfien uit die nuwe Mom's Dickinson Apteek gesteel, tydens 'n inbraak die afgelope naweek.
Kyk asseblief uit vir ‘n paar bronstige mans wat erg lomerig is!
Mnr. Dickinson sê dat hy al 25 jaar in die aptekerswese is en dat dit die eerste keer is wat so iets met hom gebeur. Die nuwe apteek, nadat die Ilanga en Steve Dickinson apteke saamgesmelt het, is nou skaars ‘n maand oop.
Videomateriaal wys hoe nege boewe met ‘n Toyota Condor en Nissan NP200 bakkie op die toneel stop. Die skelms klim met trappe na die boonste verdieping en jaag dan weg as die alarm afgaan.
Net na 21:00 was reaksie offisiere van die alarmmaatskappy op die toneel en het terugvoering gegee dat alles rustig is. Nadat hulle weg is maak die inbrekers weer hul verskyning.
Vier hou buite wag terwyl vyf die apteek in is. Hulle het van die tweede verdieping af ingebreek en afgesak tot op ‘n platform wat in die apteek gebou is.
Mnr. Dickinson sê dat daar baie eienaardige medisyne gesteel is soos natuurlike doepas asook die genoemde seksopkikkers. Daar is ook by ‘n kluis en ‘n tellermasjien in die apteek ingebreek en kontant gesteel.
Die totale skade beloop ‘n geskatte R140 000.
