Dié Martino kul jy nie!
'n Boef het Woensdag sy Moses lelik teëgekom by die Wonderpark Sentrum waar hy platgeduik is deur 'n vrou "met die mooiste bene op aarde".
‘n Ooggetuie, me. Lynette Schoeman, sê dat pandemonium omstreeks tien uur by die sentrum uitgebreek het toe die boef ‘n vrou se pas getrekte kontant en bankkaart gegryp, en soos blits op die vlug geslaan het.
“Toe die man die vrou se geld gryp en spaander het talle mense luidkeels geskreeu ‘vang hom! vang hom!’ en die geskreeu moes die vrou met die bene se aandag getrek het,” vertel me. Schoeman.
Me. Anel Martino, wat by die bloedbank was om bloed te skenk, het soos ‘n vetgesmeerde blits by die bloedbank uitgekom en die booswig agterna gesit.
Pad af in Beyers Naudestraat, in Mhluzi se rigting, het me. Martino die boef ingehardloop en grond toe gebring.
‘n Man aan die oorkant van die pad het haar te hulp gesnel en die boosdoener daar gehou, tot die polisie opgedaag, en hom gearresteer het.
Me. Schoeman sê sy het me. Martino vroeër saam met ‘n vrienin van die Wimpy se kant af bloedbank toe sien stap en by haarself gedink “sjoe maar dié vrou het mooi bene”.
Sy het haar trompop geloop na die “catch van die jaar,” om haar geluk te wens met haar brawade, en haar naam te vra om vir die Middelburg Observer te gee.
“Nee kyk, die dame verdien ‘n Bell’s” sê me. Schoeman.
Ongelukkig het me. Martino nie op die Middelburg Observer se versoeke vir haar kontakbesonderhede op Facebook, voor druktyd reageer nie.
Navrae aan die polisie het ook op dowe ore geval.
Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!
