R1 000 borg vir Nkadimeng
Benny Nkadimeng (42), is op borg van R1 000 vrygelaat, nadat hy gearresteer is kort na ’n rekenaar Maandag, 24 Augustus, vanuit ’n kantoor by Groblersdal Polisiekantoor gesteel is.
Nkadimeng is omstreeks 00:25 dié Maandag deur Groblersdal polisie in hegtenis geneem en aangekla van die besit van vermoedelike gesteelde eiendom, nadat lede van die polisie Nkadimeng met ’n naamplaatjie wat aan ’n polisiekaptein behoort, opgemerk het.
“Na ondersoek is die verdagte met die misdaad verbind. Nog ’n jeugdige verdagte is in hegtenis geneem. Die polisie het die Kinder Beskermingswet gevolg en die 17-jarige se saak word tans deur ’n proefbeampte hanteer,” sê a/o Stanley Magaela, polisiewoordvoerder.
Die jeugdige het Woensdag in die kinderhof verskyn.
Nkadimeng het Woensdag in die Distrikshof verskyn op ’n klag van diefstal. Hy het ook dieselfde dag in die Streekhof verskyn vir ’n ander saak van diefstal, waarop hy vyf jaar gevangenisstraf opgelê is. Dié vonnis is vir twee jaar opgeskort.
