Erg geslaan deur jong mans
'n Kanonkop inwoner is so erg aangerand deur 'n groep jong mans dat sy gesig onherkenbaar geswel het.
Carlo Ninzatti (40) het Saterdagaand ‘n paar vriende oorgehad vir sy verjaardag. Sy vrou, Mari-Louise, sê dat een van hul gaste se dogters se kêrel ook by die partytjie was om sy meisie te kom oplaai.
Daar was ‘n woordewisseling tussen die jong man en een van die ander gaste. Mev. Ninzatti het deur die venster gesien hoe die jong man in hul huis se oprit staan en op die foon praat.
Hy het daarna glo terug die huis ingestap en aan een van die gaste gesê dat hulle moet uitstap om die bakleiery buite verder te sit. Mev. Ninzatti het dit verhoed.
“Ek het hom gevra om die perseel te verlaat en was oppad om my hek se afstandbeheer te kry, toe die kar met sy vriende voor ons hek stop.”
Sy wou toe nie die hek oopmaak nie, omdat sy nie die vreemdelinge in haar erf wou toelaat nie.
Die jong mans het die motorhek van sy spoor af getel om toegang tot die erf te kry. Mnr. Ninzatti het probeer keer en is eerste geslaan.
“Hulle het net ingekom en begin slaan. My man was ongelukkig eerste daar want dit is ons huis.”
Mnr. Ninzatti is per ambulans na Midmed Ongevalle gehaas vir behandeling en daar is ‘n klag van aanranding by die polisie geopen.
Twee van die betrokkenes se identiteit is bekend aan die Middelburg Observer maar mag nie genoem word, voordat hulle aangekla en in die hof verskyn het nie.
Die ma van die jong man wat by die partytjie was, sê dat haar seun die perseel wou verlaat maar dat hulle nie hek vir hom wou oopmaak nie. Hy het daarna sy vriende gebel om hom te kom help. Hy was net so verbaas toe hulle begin slaan. Hy het teruggestaan en nie ‘n vuis gelig nie.
Die jong man en ‘n vriend van hom wat saam by die partytjie was, het reeds verklarings by die polisie afgelê.
Daar is verneem dat twee verdagtes Maandag in hegtenis geneem is. Dit kon egter nie voor druktyd by die polisie bevestig word nie.
Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!

