CrimeUpdate

‘n Lang misdaadrekord

'n Mens kan byna 'n boek skryf oor Mduduzi Nkosi se lang misdaadrekord!

Regter Moshidi het, voordat hy Nkosi lewenslank tronk toe gestuur het op die moord op mnr. Johan Venter en die poging tot moord op sy vrou, Rentia, sy misdaadrekord aan die hof voorgehou.

• 1996: ses maande tronkstraf vir huisbraak.

• 1999: drie maande tronkstraf vir aanranding met die opset om ernstig te beseer.

• 2008: ses maande tronkstraf vir ‘n ontsnappoging.

• Op 15 April 2015 word hy gevonnis tot ses jaar gevangenisstraf vir ontsnapping nadat hy eers in 2009 ontsnap het en later weer in 2013.

Nkosi staan juis tereg op nog vele ander sake, waaronder poging tot moord, ontvoering, verkragting en roof, wat gepleeg is kort nadat hy en Johannes Mthimunye in 2009 ontsnap het.

Hy is in Maart 2009 saam met Johannes Mthimunye gearresteer na rooftogte in Eastdene.

Op 1 Desember 2009 ontsnap hy en Mthimunye. In dieselfde maand word ‘n egpaar aangeval op ‘n plaas op die Groblersdalpad waartydens die man 27 keer met ‘n hamer oor die kop geslaan is. Sy beserings was van so aard dat een van sy vingers later geamputeer moes word. Die vrou is tydens die voorval ontvoer, verkrag en later langs die pad naby Loskop Damwal afgelaai.

Op 22 Januarie word mnr. Venter vermoor en in dieselfde tyd was daar ook drie kapings, twee in Carolina en een op Hendrina.

• Mthimunye is in November 2014 op die Groblersdalpad-aanval skuldig bevind vir verkragting (lewenslank 25 jaar), roof met verswarende omstandighede (15 jaar), poging tot moord (ses jaar) en menseroof (vier jaar). Hy sal eers na 25 jaar kan aansoek doen vir parool.

• Nkosi staan tereg op presies dieselfde klagtes as Mthimunye. Hierdie verhoor sal in Februarie voortgesit word.

Back to top button