CrimeUpdate

Opvolg: Honde weer afgemaai met gif

Vyf honde is die afgelope twee weke deur die Temik-bendes afgemaai!

•Mnr. Dewald van Niekerk se motorfiets is Donderdag in die vroeë oggendure uit sy motorhuis in Harry Gwalastraat gesteel.

“My honde, twee Jack Russells en ’n boerboel, is oor Paasnaweek vergiftig en daar was geen honde wat my kon waarsku nie.”

Die boosdoeners het die hekmotor buite aksie gestel en die hek oopgeskuif.

Daarna is die elektriese motorhuis oopforseer, van binne af buite aksie gestel en oopgemaak. Hulle het weggekom met mnr. Van Niekerk se rooi 125 Honda (registrasienommer HHP356MP).

•Hierdie diefstal volg nadat daar ook Maandag in die vroeë oggendure ’n motorfiets in AG Visserstraat gesteel is. Tydens hierdie diefstal is ’n persoon, wat homself onder takke versteek het, in die koppie aan Mhluzi se kant gevang. Daar is ’n sakkie met Temikgif by hom gekry.

’n Paar uur later is die motorfiets, ook onder takke versteek, deur die berede-eenheid gevind. Die plek waar die motorfiets gekry is, is sowat vyf treë vanaf die plek waar hulle die man gevang het.

•Die selfde nag het twee honde gif ingekry in AG Visserstraat, waarvan een gevrek het.

•Twee dae nadat dié man vasgetrek is, het die gifstrooiers toegeslaan in Kanonkop.

Drie gesinne in Korhaanstraat het Woensdag in die vroeë oggendure gevind dat hul honde dood in hul tuine lê. In bykans dieselfde tyd het ’n inwoner van Broodboomstraat gesien hoe ’n booswig gif vir sy honde gooi.

Die eerste persoon wat agtergekom het die gifstrooiers is bedrywig, is mnr. Eric Cason (Broodboomstraat, Kanonkop).

Hy was Woensdag omstreeks 03:15 wakker en het gehoor sy boerboele gaan geweldig tekere in die hoek van sy erf. Mnr. Cason het suutjies opgestaan, sy sterk flits gekry en deur die venster met die flits gelig in die rigting waar die honde blaf.

Hy het gesien dat ’n man byna teen die palissade heining staan, net buite die bereik van die honde, met sy hand bokant sy kop. Die volgende oomblik het die man iets oor die heining laat val.

Die boosdoener het hierna, met ’n tweede persoon kort op sy hakke, hoër op in die straat verdwyn.

Mnr. Cason het ’n saamgeperste bol maalvleis op die gras opgetel en dadelik die korrelrige gif (Temik) daarin opgemerk.

Nadat hy seker gemaak het alles is veilig, het hy uitgegaan in die straat en ’n plastieksakkie, wat die ander verdagte wat oorkant die die pad gestaan en wag het, laat val het, opgetel. In dié sakkie was ook van die korrelrige gif.

•Mnr. Douw Snyman het omstreeks 03:00 opgestaan om te gaan werk en hul rifrug, Rocky, dood op die gras lê.

•Teen ligdag het die mense oorkant die straat hul Alsation, Chaka, ook dood voor in die erf gekry. Me. Marna Fouché glo hul hond het ook vir die booswigte geblaf wat oorkant die straat besig was om die hek van die spoor af te lig, waarop hulle doodluiters vir hom ook gif gegee het.

• Later die oggend is laat weet dat ’n hond net later af in Korhaanstraat by ’n huis vergiftig is.

• Dieselfde nag het booswigte by twee huise, in Protea- en Elandstraat, elektriese hekke oopgekry. By Elandstraat het die man wakker geword, uitgekom en op hulle geskree, waarna hulle gevlug het.

• Woensdagaand het ’n vrou gesien hoe mense haar palissade hek in Renosterstraat oopskuif. Sy het uitgekom, geskree, teruggehardloop die huis in en die GPF Sektor 4 lede gekontak.

Lees vorige stories hier:

Temik – begin van misdaadsirkel

Temik – strooiers slaan weer toe in Pleinstraat

Honde met temik vergiftig

48 Dogs, One cat killed in 28 Days

• ’n Gesin is verlede Donderdag in die vroeë oggendure deur rowers in Eastdene aangehou, nadat die rowers die bure se honde vergiftig en oor die muur gespring het.

• Volgens senior insp. Petro Oberholzer (Middelburg DBV) is daar gedurende Maartmaand 51 honde en een kat vergiftig, April ses honde (twee oorleef) en twee katte en Meimand staan hulle al op sewe gifgevalle (een het oorleef en twee is gekeer voordat hulle dit kon inkry).

• Daar word ’n beroep op die gemeenskap gedoen om alle voorvalle van dierevergiftigings by die DBV (013 246 1201) en die polisie aan te meld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button