Die week in Middelburg se geskiedenis: Middelburgers se offer by Talana
Die eerste Middelburgers sneuwel in die Anglo-Boereoorlog weens ’n Boeregeneraal se hardnekkige versuim om ondersteuning te verleen.
Vandag, 20 Oktober 2026, is dit 127 jaar sedert die Slag van Talana, naby Dundee in Natal, waarin lede van die Middelburg-kommando tydens die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het.
Die Middelburg-kommando vertrek na die oorlogsfront
Op Saterdag 30 September 1899 het die Middelburg-kommando vanaf Middelburg-stasie gemobiliseer en na die oorlogsfront vertrek. Die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) se oproep tot krygsdiens is op Woensdag 27 September 1899 uitgereik.
Die Middelburg-kommando
Elke kommando was aan ’n bepaalde dorp of distrik verbonde en is dienooreenkomstig benoem. Die Middelburg-kommando het die hele distrik Middelburg omvat, wat destyds tot aan die grens met Eswatini en die Vaalrivier gestrek het.

Die kommando het onder bevel gestaan van ’n kommandant wat vir ’n termyn van vyf jaar deur die burgers van die distrik verkies is. Hierdie verkiesingstelsel het egter nie noodwendig verseker dat die mees ervare of kundige militêre leier aangewys is nie. Verkose offisiere kon ook uit hul amp onthef word indien die burgers ontevrede met hul diens was.
Die kommandant is bygestaan deur veldkornette en assistent-veldkornette, wat elk vir ’n wyk van die distrik verantwoordelik was. Hulle is eweneens vir ’n termyn van drie jaar deur die burgers van die betrokke wyk verkies.
Die veldkornet was verantwoordelik vir die oproep van burgers, die handhawing van orde in sy wyk, die invordering van belastings en die uitreiking van vuurwapens en ander krygsmateriaal in oorlogstyd. In vredestyd was die veldkornet aan die landdros verantwoordelik. Ná mobilisasie het hy aan die kommandant gerapporteer, wat op sy beurt aan ’n generaal verslag gedoen het.
Die veldkornet is bygestaan deur ’n aantal kommanderingsmanne, onder wie Jack Hindon, wat die burgers te perd moes gaan opkommandeer.
’n Wyk is in beginsel verder in korporaalskappe verdeel, wat gewoonlik uit ongeveer 20 burgers bestaan het. Die korporaal is deur die burgers verkies. In sommige gevalle het uitgebreide families, bestaande uit vaders, seuns, ooms en neefs, saam ’n korporaalskap gevorm.
In oorlogstyd is bykomende ondersteuningsrange ingestel, waaronder dié van vleiskorporaal, wat vir die uitreiking van rantsoene verantwoordelik was. Die range van kaptein, adjudant en luitenant was slegs op die Staatsartillerie, die polisie en die verkenningskorpse van toepassing.
Alle mans tussen 16 en 60 jaar kon vir krygsdiens opgeroep word. In beginsel is mans tussen 18 en 34 jaar eerste gemobiliseer, gevolg deur dié tussen 34 en 50 jaar. Mans ouer as 50 jaar is slegs as ’n laaste uitweg opgeroep.
Totdat oorlogs- of krygswet afgekondig is, is sekere ampsdraers van krygsdiens vrygestel, onder wie:
- Lede van die Eerste en Tweede Volksraad
- Landsamptenare
- Kerklike beamptes (predikante)
- Geordende skoolonderwysers
- Winkeliers.
Veldkornette het ook die gesag gehad om sekere burgers van krygsdiens te verskoon, waaronder:
- Enigste seuns van ’n weduwee
- Persone met ’n liggaamsgebrek (of ’n geestesgebrek).
Na raming het die Middelburg-kommando oor 1 550 weerbare manne beskik.
Elke burger moes sy eie vuurwapen of vuurwapens, ’n standaardvoorraad ammunisie – tradisioneel minstens 50 patrone – en ’n ryperd voorsien. Daarbenewens moes hy voldoende voedsel en ander benodigdhede vir ongeveer agt dae saamneem. Baie burgers het ook ’n pakmuil gebruik om hul uitrusting te vervoer.
Agterryers en bykomende perde is gemobiliseer. Ossewaens en muilwaens, saam met trekdiere, is vir vervoerdoeleindes georganiseer. Elke korporaalskap het dikwels self bepaal wie se waens saamgeneem sou word. Tydens veldtogte het die waens ook as tydelike skuiling gedien.

Ten tyde van die mobilisasie in 1899 het die Middelburg-kommando onder bevel van kommandant Christiaan Ernst Fourie (1858–1943), ’n boer van Blesbokfontein suid van Middelburg, gestaan. Hy is op 13 Desember 1899 as veggeneraal aangestel en deur kommandant Petrus Frederik (Piet) Trichard opgevolg.
’n Veggeneraal is hoofsaaklik deur die oppergesag aangestel om bevel oor ’n aantal kommando’s te voer en is selde verkies.

Kommandant van die Middelburg Kommando in 1899 (Foto: Tian Schutte – Foto KI gerestoureer en gekleur))
Die distrik was in vyf wyke verdeel:
- Dorpswyk: Francois Frederick (Jan) Vercueil was die veldkornet.
- Selonsrivier, noord van Middelburg: Gideon Jacobus Johannes Joubert was die veldkornet.
- Steenkoolspruit, suidwes van Middelburg: Mathys C. Pretorius was die veldkornet. Hy het later ’n joiner geword.
- Olifantsrivier, suid van Middelburg: Petrus Frederik (Piet) Trichard was die veldkornet.
- Mapochsgronde, Roossenekal: Jacob Johannes (Japie) Krige was die veldkornet. Hy het later by Ouhoutbossie gesneuwel.

Die burgers se wapens
Voor die Anglo-Boereoorlog was die 11,4 mm Westley Richards-geweer, ’n verbeterde Martini-Henry, een van die gewildste wapens in die Boererepublieke. Hierdie enkelskoot-agterlaaiergeweer, wat met ’n valblokmeganisme gewerk het, was akkuraat oor ’n afstand van tot 550 m. Sommige eksemplare was gemerk met die woorde “Made Specially For Z.A.R.”
Ná die Jameson-inval het die Zuid-Afrikaanse Regering die krygsmag herbewapen deur 37 000 van die jongste 7 mm Mauser Model 1895-gewere en ongeveer 40 miljoen tot 50 miljoen patrone in te voer.
Verskeie ander soorte gewere was ook in omloop, waaronder 8 mm Guedes-, 7,9 mm Lee-Metford-, Lee-Enfield- en 6,5 mm Krag-Jørgensen-gewere. Hierdie wapens is deur die veldkornette aan die burgers uitgereik.
Mobilisasie
Die kommando het by Middelburg-stasie byeengekom. Hindon beskryf die teenwoordigheid van die dorpsveldkornetskap en ‘enige honderde burgers’ op die stasie.
Die burgers het hul waens en perde op die trein gelaai, terwyl die trekosse en slagvee in die rigting van Volksrust aangejaag is. Verskeie treine is waarskynlik gebruik. Slegtkamp vermeld dat hy en 30 burgers eers die aand vertrek het, terwyl Hindon na ’n vertrek gedurende die dag verwys.

Aangesien die dorpsveldkornetskap gemobiliseer het, was die meeste Afrikanervroue en -dogters van die dorp op die stasie om van hul geliefdes afskeid te neem. Pauline Coetzee, die latere eggenote van Jack Hindon, was ook daar.
In ’n roerende oomblik het die vroue die Transvaalse Volkslied gesing, terwyl die mans met ontblote hoofde gestaan het toe die eerste trein stadig vertrek het.

Hoewel geen volledige naamlys van die gemobiliseerde burgers behoue gebly het nie, kan verskeie Middelburgers uit beskikbare bronne geïdentifiseer word. Kommandant C. E. Fourie was die bevelvoerder. Piet Trichard, wat hom later sou opvolg, was ook teenwoordig, asook Jack Hindon, die Skot wat later bekend én berug sou word, en Henri Slegtkamp, ’n jong Nederlander wat nog nooit voorheen perdgery het nie.
Johannes Jacobus Kock Scheepers, bekend as Koos Scheepers, en sy 19-jarige seun, Theodorus Cornelius, oftewel Doris, het ook gemobiliseer. Verskeie jong Boerseuns het vir die eerste keer as lede van die kommando gemobiliseer, maar sou ongelukkig nie terugkeer nie.


Agter: Kpl Piet Schabort; Jacobus Johannes Schabort; Wessels; Isaac Pieter Minnaar; P Bosman; T Bosman; A Smit
Voor: N Prinsloo; Piet Minnaar; Johannes Christoffel Schabort; Jacob Philippus Maré Schabort †; T Bosman; Jacob Philippus Maré †
Die kommando het via Pretoria na Sandspruit, naby Volksrust en die laaste stasie voor die Natalse grens, gereis. Twee dae later, op 2 Oktober 1899, het die burgers daar aangekom. Die verskillende kommando’s van die ZAR het langs die spoorlyn by Sandspruit, binne sig van Majubaberg, laer opgeslaan.

Ds. Alewyn Burger, leraar van die Witkerk, het met sy perdekar na Sandspruit gereis om hom as kapelaan by die Middelburg-kommando aan te sluit. Op Bethal het ds. J. P. Liebenberg by hom aangesluit. Hulle het op Saterdag 7 Oktober by Sandspruit aangekom.
Daar was ongeveer 1 000 burgers in die Middelburg-laer. Daardie middag is Manie Mills van Middelburg deur weerlig doodgeslaan. Hy was die eerste Middelburger wat tydens die mobilisasie gesterf het. Sy graf kon ongelukkig nie opgespoor word nie.
Burger beskryf hoe hy die diens uit Nahum 2:1 gelei het.
“Die verwoester trek teen jou op; bewaak die vesting, kyk uit langs die weg, versterk die lende, ontwikkel al jou krag!”
Sy politieke oortuiging kan duidelik hieruit afgelei word, maar die woorde het ook ’n treffende boodskap oor wat voorgelê het.
Die oorlog breek uit
Op Maandag 9 Oktober 1899 om 17:00 het F. W. Reitz, staatsekretaris van die ZAR, ’n ultimatum aan die Britse gesant in Pretoria, sir William Conyngham Greene, oorhandig.
Daarin is geëis dat die Britse troepe binne 48 uur van die landsgrense onttrek moes word; anders sou oorlog verklaar word. Die ultimatum het op Woensdag 11 Oktober 1899 om 17:00 verstryk, waarna die ZAR en sy bondgenoot, die Oranje-Vrystaat, in ’n staat van oorlog verkeer het.
Conyngham Greene het Pretoria reeds daardie oggend verlaat, en krygswet is dieselfde dag afgekondig.

Die Britse magte was destyds hoofsaaklik by Dundee en Ladysmith saamgetrek, terwyl verdere versterkings nog per skip onderweg was. Spoedige optrede was dus noodsaaklik.
Kommandant-generaal P. J. Joubert, toe 67 jaar oud, het egter versigtig en stadig opgetree. Hy het van die begin af getalm en langsaam gehandel. Burger beskryf hom as die ‘beminde vredeliewende kommandant-generaal.’
Ná ’n emosionele oggenddiens onder leiding van Burger, waartydens die hele kommando neergekniel het, het die Middelburg-kommando as deel van genl. Lukas Meyer se mag die grens oorgesteek.
Die mag was vergesel deur drie ambulanswaens van die Beckett-ambulans. Hierdie ambulans is deur T. W. Beckett en Kie., ’n bekende sakeonderneming in Pretoria, voorsien en deur personeel van die onderneming beman.
Volgens genl. Piet Joubert se aanvalsplan moes hierdie mag Dundee op Vrydag 20 Oktober 1899 vanuit die ooste aanval en die hoogtes by Talana- en Lennoxheuwel beset.
’n Tweede groepering onder genl. Daniël J. E. (Maroela) Erasmus, bestaande uit Pretoria-kommando’s en die artillerie onder kol. S. P. E. Trichard, moes vanuit die noorde aanval en Impatiberg beset. Genl. J. H. M. Kock moes suidwaarts beweeg om die spoorverbinding met Ladysmith af te sny.
Die Slag van Talana
Vroeg op die oggend van 20 Oktober was Meyer se mag op die aangewese posisie. Erasmus se mag het Impatiberg beset, maar ’n digte mis het oor die kruin gehang.
Omstreeks 05:00 het die geveg begin toe die Boere-artillerie verskeie rondtes op die Britse kamp afgevuur het.

Erasmus het egter besluit om sy posisie in die mis op die berg te behou en het, volgens die beskikbare beskrywings, weens ’n persoonlike geskil met Meyer nie tot die geveg toegetree nie. Sy versuim om op die beplande tydstip aan te val, het meegebring dat Meyer se burgers die grootste deel van die gevegslas moes dra.

Burger beskryf hoe die Middelburgers, nou onder bevel van Trichard, oor die terrein versprei het. Lede van die Middelburg-kommando het saam met burgers van ander kommando’s in die voorhoede agter die klipmuur op Talana-heuwel geveg.
As gevolg van Erasmus se optrede moes Meyer se kommando’s teen 14:00 na Transvaalse grondgebied terugval. Die Slag van Talana het vir die Boere op ’n ernstige terugslag uitgeloop. Volgens beskikbare syfers het 45 (49) burgers gesneuwel en 95 (90) is gewond.
Koos het in die voorhoede van die geveg, net agter die klipmuur op Talana-heuwel, gesneuwel. Doris is deur Britse soldate by sy vader se liggaam gevange geneem en saam met nog 13 krygsgevangenes na Dundee weggevoer.

Nadat ’n skietstilstand ooreengekom is, het die Boeremag oor die Buffelsrivier teruggeval.
Die volgende oggend, Saterdag 21 Oktober 1899, is die gewondes versamel en met die ambulanswaens afgevoer. Burger en Liebenberg het aanvanklik saam met dr. Moorhead, die distrikgeneesheer van Middelburg, gehelp om die gewondes te versorg. Daarna het hulle die gesneuweldes begin bymekaarmaak.
Intussen het Britse husare ’n aanval op die burgers by die Buffelsrivier geloods. Verskeie burgers, onder wie Jan Taute van Middelburg, is met sabels gedood.
Agt Middelburgers is tydens die geveg dood:

Sewentien Middelburgers is gewond:

[Middelburg Erfenis sal graag meer inligting van hierdie Middelburgers wil verkry. Kontak gerus as dit u familie was.]

’n Plaaslike boer het grond aan die westekant van die hospitaal beskikbaar gestel vir ’n graf. Die hospitaal is in ’n plaashuis agter Talana-heuwel ingerig. ’n Massagraf is vervolgens voorberei.
Op Sondag 22 Oktober 1899 om 11:00 het Burger en Liebenberg 19 gesneuweldes, onder wie Koos, tydens ’n plegtige diens in die massagraf begrawe.
Die teksvers was 2 Samuel 1:25: “Hoe het die helde geval, diep in die geveg.”
Magistraat P. Hugo van Dundee, ’n voormalige skoolvriend van Burger, het die 14 gevange Boere, onder wie Doris, vrygelaat. Hy het daarna weer by die kommando aangesluit.
Kritiek op genl. Erasmus se optrede
Burger skryf met verbittering oor wat hy as Erasmus se ernstige pligsversuim beskou het. Volgens hom moes slegs die helfte van die Boere-kommando’s die volle vyandelike mag stuit.
Volgens Burger kon die artillerie onder kol. S. P. E. Trichard, ook ’n Middelburger en Piet Trichard se broer, ’n beduidende bydrae gelewer het met ’n sy-aanval. Die artillerie was by Erasmus ingedeel. S. P. E. Trichard beskryf hoe hy tevergeefs op ’n bevel van Erasmus gewag het om te vuur.
Ten spyte van die felle kritiek op hom het Erasmus sy Pretoria-kommando as assistent-kommandant-generaal tydens die Slag van Rietfontein op 24 Oktober 1899 gelei. Hy het ook aktief aan die daaropvolgende Beleg van Ladysmith deelgeneem.
Later in die oorlog is hy aangestel as voorsitter van die Militêre Hof vir die distrikte Pretoria, Heidelberg, Middelburg en Bethal.
Sy gebrek aan aggressiewe inisiatief het sy militêre loopbaan deurgaans beïnvloed. In Augustus 1900 is hy amptelik tot die rang van kommandant gedegradeer weens herhaalde versuim om doeltreffend op te tree. Met verloop van tyd het sy manskappe hom as iemand sonder werklike gesag beskou.
Hy het nietemin geweier om oor te gee en het as gewone burgersoldaat in die veld bly veg.
Op 3 Januarie 1902 is hy deur die Britse magte van genl. Bruce Hamilton naby Amsterdam, aan die grens met Eswatini, gevange geneem. Hy is as krygsgevangene na die eiland St. Helena gestuur, waar hy tot ná die ondertekening van die Vrede van Vereeniging in Mei 1902 aangehou is.
Ná sy vrylating het hy na sy boerdery teruggekeer. Hy is op 7 Mei 1914, op 69-jarige ouderdom, op die plaas Grootfontein oorlede.
Herbegrafnis van die Talana-gesneuweldes
In 1929 is die oorskot van die gesneuweldes opgegrawe en in ’n ossuarium onder die kloktoring van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Dundee herbegrawe.
Die graf word gekenmerk deur ’n reliëf van Anton van Wouw en ’n granietblad waarop die name van die gesneuweldes aangebring is.
Die herbegrafnis het tydens ’n plegtige geleentheid plaasgevind. Dit is onbekend of enige van die Middelburgers se naasbestaandes die geleentheid bygewoon het.







Die Burgermonument in Middelburg
Die Burgermonument op Van Blerkplein, oorkant die Witkerk in Middelburg, is in 1938-1939 opgerig.
Die name van die Middelburgers wat tydens die Slag van Talana gesneuwel het, is op die monument se oorspronklike bronsplate aangebring. Die plate is later geplunder en deur ’n hersiene lys op graniet vervang. Ongelukkig bevat die vervangende lys verskeie foute.
Hoewel ds. Burger in sy biografie Johannes Coetzee en L. P. Vermaak as Middelburgers lys, was hulle lede van ander kommando’s. Hulle het egter saam met die Middelburgers geveg.


Slotopmerking
Die Middelburg-kommando het gemobiliseer en aan die eerste geveg aan die Natalse front tydens die Anglo-Boereoorlog deelgeneem. Agt Middelburgers het gesterf en 17 is gewond.
Die verloop en uitkoms van die geveg is in belangrike mate beïnvloed deur genl. Erasmus se versuim om die beplande ondersteuning te verleen. Historiese bronne verbind hierdie besluit met die digte mis en sy persoonlike geskil met genl. Meyer.
“Hoe het die helde geval, diep in die geveg.”
Bibliografie op aanvraag by die outeur beskikbaar.
