Crime

Kansvatters teiken werkloses

'n Jong man, wat desperaat is vir werk, is deur 'n swendelaar wat vir hom die maan en sterre beloof het, ingeloop van die bietjie geld wat hy bymekaar kon skraap.

Die slagoffer het versoek om anoniem te bly.

Dinge het uiteindelik meer rooskleurig begin lyk toe die jong man, wat honderde CV’s op die internet uitgestuur het, van een van die adverteerders terug gehoor het.

Soos talle plaaslike inwoners, is die man wat ‘n gekwalifiseerde elektrisiën is, na afleggings by myne werkloos.

“Toe hy die werk kry was hy so opgewonde. Hy het ‘n huis en kar om te betaal,” vertel die seun se pa.

Ene Dewald van Staden het ‘n e-pos van die adres sitefabeconstruction@gmail.com gestuur. Hy het ook telefonies met sy teiken gekommunikeer.

Die werksaanbod was baie aanloklik. Die jong man van Middelburg sou in Namibië gaan werk op ‘n 90 dae basis waarna hy vir 21 dae verlof sou kry.

Die proses sou hom vir drie jaar herhaal. Werknemers sou R285 per uur betaal word, van huisvesting en drie etes ‘n dag voorsien word en ook volle mediese dekking na die eerste 90 dae geniet.

Die jong man het R770 spandeer om sy paspoort in orde te kry. Daarna moes hy R350 betaal sodat sy kredietwaardigheid, kwalifikasies en moontlike kriminele rekord nagegaan kan word.

Indien alles in orde was en dit blyk dat hy nie op sy CV gejok het nie, sou die R350 aan hom terug betaal word.

Dit is hier waar die jong man se pa begin onraad vermoed het.

“Ek het vir Dewald gebel en gevra oor die Gmail e-pos adres en hoekom ons die geld met e-Wallet van FNB moes betaal en nie in ‘n besigheid se rekening in nie. Dewald was baie glad met die bek maar ek was nog steeds skepties en het dit vir my seun gesê,” vertel die slagoffer se pa.

Maar die jong man was so desperaat vir werk, en die aanbod so aanloklik, dat hy besluit het om die kans te vat.
Daarna was daar leë beloftes wanneer die geld terug betaal sou word.

Met die laaste telefoongesprek het Dewald oor die foon geskree “Kyk of jy dit kan bewys!” toe hy van bedrog en diefstal beskuldig is. Van die beloofde werk, het daar niks gekom nie.

Met die Middelburg Observer se ondersoek kon die nommer waarmee Dewald sy teikens gebel het, verbind word met ‘n besigheid wat aluminium tente vir 4×4 voertuie maak. Die besigheid, Bosiesbos Aluminium Canopies, het in April laas op advertensie webwerwe soos Junkmail en OLX geadverteer.

Alhoewel Dewald van Staden se naam nie by al die advertensies genoem word nie, word sy nommer saam met die naam Hendrik geadverteer op sommige webwerwe.

Daar kon vasgestel word dat Hendrik Ackerman en Dewald van Staden blykbaar saam werk. Die bron kon egter nie bevestig of hulle wel twee verskillende mense of een persoon is wat twee name gebruik nie.

Hendrik Ackerman, wat rondswerf tussen Krugersdorp en Randfontein, is glo al voorheen van ongerymdhede beskuldig.

‘n Internet soektog het getoon dat die e-pos sitefabeconstruction@gmail.com by honderde advertensies gelys word.

Daar is onder andere advertensies in Nelspruit, Rustenburg en Delmas opgespoor. Dewald van Staden se telefoonnommer is ook by advertensies vir werk in Kaapstad gevind.

Lees ander stories hier:

Pasop internet boewe wil jou teiken

Nie Hendrik Ackerman of Dewald van Staden se foonnommers het na stempos oorgegaan toe hulle gebel is. Die slagoffer sê dat daar tye is wat die foonnommer lui maar dat hy vermoed dat sy oproepe onbeantwoord bly omdat die swendelaar sy nommer ken.

“Daar is seker baie mense wat sal wonder waaroor ons so groot bohaai maak oor R350. Maar het jy al gedink hoeveel mense hulle so in doen? En hoeveel mense, met die situasie vandag, het R350 om sommer net weg te gooi?”

Hy het onderneem om ‘n saak van bedrog by die polisie te gaan open.

Bedrogsake kan by ontrac.org.za gerapporteer word asook by die Universiteit van Johannesburg vir statistiek doeleindes by adam.uj.ac.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button