Opvolg: Igna Nortjé moord
Inligting wat nog nooit voorheen bekend gemaak is nie in die Igna Nortjé moord, is deur die Middelburg Observer bekom, nadat ons insae in die polisiedossier gehad het.
Daar is nooit bekend gemaak dat die moordenaar donker akneevlekke op sy gesig gehad het nie.
Ses mense is al ondervra maar kon nie met die moord verbind word nie.
Kol. Faan Steenkamp (Bevelvoerder, Middelburg Valke) het nuwe inligting met die Observer gedeel in nog ‘n poging deur hul ondersoekspan om haar moordenaar te probeer vastrek.
Me. Nortjé is op 30 Mei 2012 vanaf haar huis ontvoer en haar lyk is dieselfde aand in ‘n sloot naby die Verena polisiestasie gekry. Haar voertuig, ‘n blou BMW, het net ‘n entjie verder vanaf haar lyk gestaan.
Die moordenaar het haar by haar huis in Sipresstraat (Dennesig) oorval en haar na alle waarskynlikheid die huis in gedwing, aangesien die kluis oop gevind is. Al wat egter uit die kluis verwyder is, is haar gaspistool.

Daar was geen teken van geforseerde toegang tot die erf of huis nie.
Vandaar het hy met haar gery na die kitsbank by die FCM Motorhawe (Hendrina pad) waar hy die hulp van prostitute gevra het om te probeer geld trek uit me. Nortjé se rekening. Toe hy nie daarin kon slaag nie het hy na Stoffberg gery, waar hy nog ‘n keer probeer geld trek het.
Me. Nortjé se lyk is dieselfde aand in Verena gevind.
• Die eerste verdagte was Andries Tjetla. Me. Nortjé se selfoon is by hom gevind en sy verweer was dat hy die foon opgetel het.
Tjetla en die ander vyf verdagtes se DNA, vingerafdrukke en alibi’s is opgevolg en kon hulle nie met haar moord verbind word nie.
Al die prostitute op die ou Belfastpad is kort na die moord ondervra, maar hulle kon nie bruikbare inligting van die moordenaar by hulle kry nie.
In die dossier is daar ook ‘n aantekening rakende ‘n vrou wat in 2015 na vore gekom het en ‘n verdagte uitgewys het. Hy was egter een van die ses wie laat gaan moes word, omdat hy nie verbind kon word met die moord nie.
“Hierdie moord het baie polisiemanne laat kopkrap. Sy is vir niks vermoor nie, ” sê kol. Steenkamp.
• Die moordenaar is deur die ooggetuies beskryf as tussen 30-40 jaar oud, slank gebou, sowat 1.65m lank, met kort hare en hy het Phedi gepraat. Hy het prominente wangbene gehad en donker akneemerke op sy wange.
Die ondersoekbeampte is adj. Steve Msiza. Inligting kan aan hom deurgegee word by 013 249 8000.
• Kol. Steenkamp sê dat hul stelsel die hele tyd vingerafdrukke outomaties skandeer en dit dan vergelyk word met sake om te kyk of persone wat gearresteer word, positief verbind kan word met ou sake.
• Meer as R120 000 is sedert haar dood aangebied vir enige inligting wat sal lei tot die arrestasie van die skuldige.
Read previous stories here:
