Dorp getref deur misdaadbende
Die polisie het vanoggend (Maandag) van misdaadtoneel na misdaatoneel gejaag, nadat misdadigers op Middelburg toegesak het.
Kort na 11:00 het die eerste oproep gekom na ’n huisbraak in Emily Hobhousestraat (Dennesig). Dieselfde tyd moes hulle jaag na ’n huisroof in Walter Sisulustraat waar ’n bejaarde vasgemaak en ’n voertuig gesteel is.
In dieselfde tyd het die polisie oral in die dorp gesoek na ’n blou Audi wat gebruik is tydens die inbraak by Emily Hobhousestraat. ’n Registrasienommer is verskaf, maar toe die persoon afgetrek is, was dit ’n vrou, wat haar boeglam geskrik het omdat die polisie haar agterna gesit het.
• Mnr. Abraham Koekemoer bly in Emily Hobhousestraat en werk net hoër op in dieselfde straat.
Hy is omstreeks 10:30 deur sy vrou gekontak om hul seun by die skool te gaan haal.
Terwyl hy besig was om te stap na sy huis om sy voertuig te gaan haal, het sy vrou hom weer gebel met die nuus dat hul huishulp laat weet het dat daar inbrekers in die huis is.
Hy het dadelik sy selfoon se videopnemer aangesit en vinnig aangestap.
Sowat drie huise van sy huis af, het hy gesien hoe die donkerblou Audi by sy oprit uitjaag en af verdwyn in Bermudastraat.
’n Inwoner van Bermudastraat het op sy videokameras gekyk en daarvolgens het die voertuig opgery in Bermudastraat en presies sewe minute later weer afgery in Bermudastraat. “Die hele inbraak het dus net sewe minute geduur!”
Mnr. Koekemoer se huishulp (wat anoniem wil bly) het aan radiogroeplede vertel dat sy kort voor 11:00 doenig by die huis was toe die deurklokkie aanmekaar begin lui. Sy het by die venster uitgeloer en gesien dat daar ’n donkerblou voertuig voor die hek staan.
Sy het gehoop hulle geepad, maar die volgende oomblik het drie mans uitgeklim en met die hekmotor van buite af begin peuter.
Binne ’n kort tydjie het hulle die motor buite aksie gestel en die hek van die spoor afgetel. Hierna het hulle doodluiters na binne gery.
Sy het gesien dat een ’n groot geweer (R5 of AK47) het en sy het na die agtertuin gevlug waar sy gaan wegkruip en die huismense gebel het.
Mnr. Koekemoer sê die inbrekers het die veiligheidshek en houtdeur oopforseer, waarna twee platskerm televisies, een in die sitkamer en een in die hoofslaapkamer, gesteel is. Hulle het ook sy vrou se juwele en sy seun se X-Box en juwele op die pad uit gegryp. Al die kasdeure in die huis was oop soos daar na waardevolle items gesoek is.
• Omstreeks dieselfde tyd het twee jong booswigte ’n bejaarde vrou in Walter Sisulustraat oorval, haar vasgebind en met haar voertuig gevlug. Die polisie het nog nie die voertuigbesonderhede bekend gemaak nie.
Die bejaarde vrou en haar familie was nog te getraumatiseer om met www.mobserver.co.za te praat.
• Lees in hierdie week se Middelburg Observer van verskeie inbrake die afgelope twee weke, wat die vermoede laat bestaan dat die koevoetbende weer bedrywig is.
•Twee mans is Maandagoggend om 2:00 in Bullerstraat gesien, waar hulle van huis na huis gesluip het.



