Crime

(Grafiese Inhoud) – Stropers ‘onmenslik, barbaars’

Naas strikke en troppe honde wat die Vallei se wild bedreig, word leeus nou vergiftig, hul koppe en pote afgekap, en vermoedelik vir moetie gestroop.

Die leeuboere van die Vallei is erg bekommerd aangesien daar reeds twee gevalle was, waar leeus net buite Groblersdal afgemaai is.

Daar was intussen ook weer gevalle waar leeus byna vergiftig is.

’n Leeumannetjie wat op ’n plaas buite Groblersdal vergiftig is in Mei, en twee leeuwyfies wat drie weke gelede buite Groblersdal op ’n ander plaas vergiftig is, bring die getal tot sewe wat in die laaste paar maande in Limpopo doodgemaak, en van liggaamsdele gestroop is.

Volgens kaptein Hennie Engelbrecht, bevelvoerder van die veediefstaleenheid in Marble Hall, is al hierdie leeus vergiftig, en hul koppe en voorpote afgekap.

Een van die leeus wat afgemaai is in Bela-Bela. FOTO: Voorsien deur South African Predator Association.
Een van die leeus wat afgemaai is in Bela-Bela. FOTO: Voorsien deur South African Predator Association.

Hy sê dat daar Saterdagnag weer ’n poging was om leeus te vergiftig by dieselfde leeuplase wat in Mei geteiken is buite Groblersdal.

“Gelukkig kon die stropers nie slaag om die leeus te vergiftig nie, want die boere was waaksaam. Die stropers het gevlug. Ons probeer nou bepaal of dit dieselfde stropers was, wat drie weke gelede twee leeuwyfies afgemaai het,” sê Engelbrecht.

Die ander voorvalle waar leeus vergiftig en van hul liggaamsdele gestroop is, was in Desember in Rustenburg, waar twee leeumannetjies doodgemaak is. Dit was ’n tydlank stil tot stropers by Stockpoort, buite Lephalale, in Mei toegeslaan het. Twee witleeuwyfies is toe vergiftig, en hul koppe en pote afgekap.

’n Week later is daar in Bela-Bela toegeslaan, en ’n leeumannetjie en wyfie onthoof.

Die vierde voorval was in Mei buite Groblersdal.

Kort na dié voorval op 31 Mei, is drie Mosambiekers in Giyani gevang vir die onwettige besit van ’n beskermde spesie, weens twee witleeukoppe, en agt witleeupote in hul besit.

Op 19 Junie is daar weer drie verdagtes in hegtenis geneem vir die besit van vier witleeupote, ’n witleeukop en stert.

Na nog ’n stiltetydperk, is twee leeuwyfies buite Groblersdal vergiftig, en beide se koppe is afgekap. Die een se voorpote, en die ander se regter voor en agterpote, is ook afgekap.

Die agt wit leeupote wat in die besit van drie Mosambiers gevind is in Giyani op 31 Mei.
Die agt wit leeupote wat in die besit van drie Mosambiers gevind is in Giyani op 31 Mei.

Saterdag se poging is gelukkig gefnuik.

By al die voorvalle buiten dié in Groblersdal, was twee verdagtes betrokke in die stropery.

’n Leeuboer van Groblersdal, wat om verstaanbare redes anoniem wil bly, kring die vrees vir die leeus nou vinnig uit.

“Ons het reeds twee voltydse wagte aangestel om ons leeus op te pas, maar voel dit is steeds nie goed genoeg nie. Ek sidder dat ek die oggend sal wakker word, en een van my leeus in so verfoeilike toestand sal aantref.

Ek het hulle as welpies groot gemaak, en soos wat mense voel oor hul honde, so voel ek oor my leeus. Wat aan die leeus gedoen word is onmenslik en barbaars”.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button