Middelburg se oudste praktiserende prokureur, Corrie Coetzee (77), is gistereraand na ’n lang kankerstryd oorlede.
Hy was een van die legendes in die regsberoep en het reeds in 1979 op die dorp begin praktiseer.
Met sy afsterwe gaan ’n stukkie van die dorp se geskiedenis verlore, soos toe ander bekende prokureurs soos Peter Brandmuller, Helgaardt du Preez, Jaap van Deventer en Wynand Prinsloo, oorlede is.
In die beginjare het Coetzee by Birman en Boshoff gewerk saam met Van Deventer en Johan Boshoff.
Later het hy, Jan Rousseau en Hein Brauckman, ’n praktyk gehad.
Nadat Rousseau na die Kaap verhuis het, het hy ’n huis gekoop en saam met Danie Schutte gewerk.
Die gesin het later die regsberoep op Middelburg agtergelaat en ’n waterwinkel in Scottburgh aan die KwaZulu-Natalse Suidkus bedryf, maar die winkel na twee jaar verkoop en Corrie het weer by die praktyk van Gideon du Plessis begin werk.
Hy het drie jaar gelede by Brandmuller Prokureurs in John Magagulastraat aangesluit, waar oudburgemeester Peter Brandmuller se seun, Andre, hom onder sy vlerk geneem het.
Hy het die drie jaar verskriklik geniet. Hy het vir my gesê hy moes jare terug al by die praktyk aangesluit het. Hulle was soos een groot familie. Die personeel is lief vir mekaar en gee werklik om,” sê Elize.
Die egpaar het hulle huis op Scottburgh behou en heen en weer gependel tussen die twee dorpe.
Corrie het diep spore op Middelburg getrap en was onder andere aktief betrokke op die beheerliggaam van Hoërskool Middelburg in die tyd toe Dr. Nicus Botes die voorsitter was.
Hy het een Comrades-marathon voltooi en was ’n entoesiastiese gholfspeler en lid van die Middelburg Buiteklub.
Tot voordat hy siek geword het met maagkanker, het hy die klub se muurbalbane aan die brand gespeel.
Hy is gister in die daghospitaal op Scottburgh opgeneem, waar hy om 19:10 oorlede is.
“Die Here het hom saggies kom haal. Ons harte is stukkend, maar met dankbaarheid.”
Die kanker het sy liggaam so afgetakel dat sy maag verwyder moes word. Hy het voor sy dood net 42 kilogram geweeg.
Hy laat behalwe vir sy vrou, Elize, ook twee dogters, ’n seun, skoonkinders en sewe kleinkinders agter.
Sy wens was dat daar ’n herinneringsdiens vir hom op die strand gehou word en dat hy veras word.
Die reëlings sal op die Middelburg Observer se webwerf gepubliseer word.