News

Bobbejaan klim die boom…

Waar die Radiogroep “mayday-mayday” roep vir misdadigers was dit die keer ‘n “bobbejaan-mayday”. Die kees is vroegoggend op Laerskool Dennesig se rugbyveld gesien. ‘n Geskokte vrou, wat onderweg was na die Dennesig inkopiesentrum, het die Observer benoud gebel oor die bobbejaan in die pad. Sy het die dier beskryf as “baie groot” en gesê hy …

Waar die Radiogroep “mayday-mayday” roep vir misdadigers was dit die keer ‘n “bobbejaan-mayday”.

Die kees is vroegoggend op Laerskool Dennesig se rugbyveld gesien.

‘n Geskokte vrou, wat onderweg was na die Dennesig inkopiesentrum, het die Observer benoud gebel oor die bobbejaan in die pad.

Sy het die dier beskryf as “baie groot” en gesê hy het teen ‘n hengse spoed in ‘n erf verdwyn toe hy haar kar sien.

Dit is onduidelik waar die bobbejaan vandaan kom.

Die oproepe het bly instroom en omstreeks 10:00, het radiogroeplede en nuuskieriges op die hoeke van Njala- en Helen Josephstraat saamgedrom, waar die bobbejaan hoog in ‘n boom gaan skuil het.Kort voor 12:00 het die plaaslike veearts, dr. Johan Barkhuizen, opgedaag om die bobbejaan te verdoof.

 

bob1 (LL ZN)

Twee pyle is na die bobbejaan geskiet, en die eerste het raak gelyk, maar na die tweede skoot het die bobbejaan uit die boom gespring en laat spaander.

Sopnat en uitoorlê na ‘n verdere soektog van meer as ‘n halfuur, het dr. Barkhuizen sy geleerdheid elders gaan aanwend en is die Observer ook terug kantoor toe.

‘n Noodroep is oor die radio uitgesaai vir inwoners van Dennesig om op die uitkyk te wees vir die bobbejaan, maar hy was skoonveld.

Dr. Barkhuizen, wat nie sommer mis skiet nie, moes deur ruig blaargroei en takke na die bobbejaan mik.

‘n Helper, mnr. Johan le Roux, het selfs geslagsroepe oor sy bakkie se luidsprekers uitgesaai om te kyk of dit nie die mannetjie nader lok nie, maar hy was beslis nie lus vir sulke dinge in die gietende reën nie.

Die Observer het intussen nog nie weer oproepe ontvang oor waar die kees hom bevind nie.

Niemand kan sê of die eerste verdowingspyl die bobbejaan getref het nie, en hy lê dalk net sy roes en afslaap in jou agterplaas.

•Verlede jaar het ‘n bobbejaan die DBV vir ure in sirkels laat ry.

Die dier het van dak tot dak gespring en naderhand was die hele Renosterstraat agterna, maar kees was te slim en het in die niet verdwyn.

gerhard@mobserver.co.za

bob2 (LL ZN)

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button