Swart wolf in ons midde
Dr. Kobus Terblanche: Xander, Boytjie in ons familie, is dood. Sy pad was nie maklik nie. Benewens bipolêre versteuring was sy lewe verder gekompliseerd deur dwelms. Aanvanklik het hy dit as 'n kruk gebruik om beter te voel. Later het hy verslaaf geraak.
Om die dwelms hier in ons dorp te bekom is maklik.
“Soos om Chappies te koop” het hyself gesê. Al wat jy moet hê is geld. Daarmee koop jy wat jy nodig het om die hoek, jou spuite by ‘n apteek.
Daar loop op hierdie oomblik, hier in ons dorp, ‘n man rond wat Woendag R200 van Boytjie gevat het in ruil vir die goed wat hom dood gemaak het. ‘n Klomp van hierdie gewetenlose handelaars is op straat, met groot voorrade dwelms, en sakke vol geld, besig om van nog van ons kinders Xanders te maak.
Die apteek waar hy sy 5 ml spuit gekoop het wat vageklem in sy regterhand gekry is, is op die oomblik oop vir besigheid.
Verder is daar op hierdie oomblik ouers, onderwysers, predikante en familie wat ons kinders aan hul eie lot oorlaat. ‘n Klomp onderskeidings en eerste span is al wat tel deesdae.
Polisie wat anderpad kyk. Die howe moet magteloos toekyk hoe dwelmhandel amper ongesteurd floreer.
Die polisie het Xander se dood deeglik ondersoek. Professioneel. Foto’s, verklarings, simpatiek. Daarvoor is ons dankbaar.
Maar dit was te laat. Xander was koud. Toe hy nog warm was, was hulle nie daar nie.
Ons is almal skuldig, nie net die polisie nie, ek ook. Die ergste moet eers gebeur voor ons betrokke raak. Ons is almal besig, so baie besig, op ons knieë voor Mammon.
Dank die Here ons is darem nie almal so nie. Daar is ook genadiglik mense soos Dolf de Necker en Francois Kruger, wat saam met die Oorwinnaars daardie ondersteunende liefdevolle omgewing skep, waar ook Xander en sy Ma hulle in laaste tyd van sy lewe kon koester.
Mens is vandag stom. Jy weet nie eintlik wat om te sê nie. Wat ek wel weet is dat Xander se afsterwe nie verniet was nie.
Sy tragiese, skokkende dood, moet help om ons samelewing in totaal wakker te skud, om ons oë oop te maak vir hierdie swart wolf in ons midde.
Die swart wolf wat klop aan ons almal se deur. Die wolf wat huil voor elke huis in ons dorp.
Mag ons almal die genade ontvang om ‘n verskil te probeer maak. Sodat ons Boytjie nie verniet dood is nie.
