Danie en Erma by AGS Lighuis
Pastoor Danie Venter en sy gesin begin Sondag 'n nuwe hoofstuk in hulle lewe as mede-leraars by AGS Lighuis gemeente in Aerorand. Hulle het in Augustus 2011 verhuis vanaf Pretoria na Middelburg en dadelik begin deel raak van die Volle Evangelie Kerk.
“Middelburg het so in ons are gekom dat ons besluit het om hier te bly om steeds ‘n impak en verskil in mense se lewe te maak. Met groot opgewondenheid en geleentheid om in die ontwikkelde area van Aerorand vir die Here te kan werk, het ons besluit om deel te word van die AGS Lighuis Gemeente.”
Die gesin was voordat hulle hier aangekom het, drie jaar terug, betrokke by Doxa Deo AGS in Pretoria Oos. Sy hart vir mense word met groot passie uitgeleef en hy geniet dit baie om die Woord te kan bedien.
Erma se geduldige oor en beraders agtergrond gaan ook ‘n groot aanwins wees in die gemeente.
Die kinders Ricardo, Daniel en Elzaan is net so groot deel van die bedieningsfamilie en leef in hulle eie reg Jesus uit waar hulle gaan.
Sondag 6 April, om 9:00, sal Pastoor Danie (of sommer net Danie soos hy verkies) sy intree boodskap lewer, waarna daar gekuier gaan word om die braaivleisvure.
Past Danie en Erma nooi die gemeenskap uit om die nuwe hoofstuk van hulle lewe te kom help inkleur in Lighuis Gemeente.
Die gemeente is op die hoek van Pongola- en Sondagsrivierstraat – Die Kerk met die Rooi muur.
Vir enige navrae bel die Kerkkantoor tussen 8:30 en 13:00 by 013-590 0224.
