News

VIDEO: Snoetneuskobra kom nie hier voor

Is die snoetneuskobra wat verlede week in Mineralia gevang is dalk die skuldige wat twee katte laat verdwyn het?

Dit is die vraag wat die Roos-gesin vra nadat die tuindienste ‘n slang in hul tuin gevang het. Die bure het gekla hul twee katte is skoonveld en die Roos-gesin het onlangs ‘n vrot reuk tussen die bosse geruik, wat hulle laat dink het dat die slang moontlik die katte gepik het.

Die slang is vir slangkenner Victor Boshoff gevat en hy het bevestig dat dit ‘n snoetneuskobra is wat in die tuin gekry is. Hierdie slang word ook die Savanna- of Bosveldkobra genoem en is beslis nie ‘n slang wat jy in dié omgewing sal kry nie.

Mnr. Boshoff sê die slang het waarskynlik in ‘n voertuig vanaf Groblersdal of Steelpoort se kant af in Middelburg beland. Die moontlikheid dat hy onwettig aangehou is, kan ook nie uitgeskakel word nie.

Hy het bevestig dat die snoetneuskobra wel ‘n kat sal pik en dat die dier binne 40 minute sou gevrek het. Die kobra sou egter nie die kat ingesluk het nie.

Die vrot reuk wat die familie geruik het, is waarskynlik die reuk van die slang se ontlasting. As die slang stres maak hy sy maag leeg en die ontlasting stink geweldig.

Die slang het neurotoksiese gif (senuweegif) wat die slagoffer se asemhaling aantas. ‘n Kat of hond sal baie gou vrek as die slang hom pik.

In die geval van ‘n mens, sal ‘n snoetneuskobra se byt veroorsaak dat die persoon binne twee tot drie ure ‘n baie ernstige mediese geval sal wees.

• Sien die video van die snoetneuskobra:

Tipiese tekens van ‘n snoetneuskobra-byt, sluit in: benoudheid, braking, sweet en erge bleekheid. Die pasiënt kan doodgaan as hy nie behandeling ontvang nie.

Mnr. Boshoff het gesê dat dié slang wel sy kop oplig en bak maak soos die rinkhals wat in hierdie omgewing voorkom. Die snoetneuskobra spoeg egter nie. Dit is nie so ‘n aggressiewe slang soos ‘n mamba nie en sal nie sommer ‘n mens aanval nie. Hy sal eerder geepad na ‘n veiliger area.

Die snoetneuskobra word soms verwar met die Egiptiese spoegkobra wat soms in die omgewing gevind word.

• Toe mnr. Boshoff die slang uit die sak haal waarin die mense hom gesit het toe hy gevang is, het hy ‘n plastiekringetjie om die slang se nek gekry.

Hy vermoed die slang het sy kop in ‘n plastiekbottel gedruk om iets te drink, waarop die ringetjie (wat aan die onderkant van die prop is) om sy nek vasgetrek het. Toe hy dit afhaal, het daar bloed uit die slang se bek gekom.

Mnr. Boshoff sê hy sal die slang vrylaat, sodra hy seker is dat hy behoorlik kan eet.

• Mnr. en me. Bertus en Cilla Albertyn het die naweek twee skadelose klein Rooilippie-slange in hul tuin in Steynstraat (Clubville) gekry. “Toe my man die asbakkie waar hy op die stoep rook, neersit, het die asbakkie begin beweeg met die slang onder dit. Ons het erg geskrik.” Hulle vermoed ‘n nes met slangetjies het in hul tuin uitgebroei en dat hulle agter die paddatjies in die tuin aan is.

• Mnr. Boshoff se seun, Darren (16) het verlede week ‘n nagadder by ‘n huis in President Brandtstraat (Dennesig) gevang.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button