Kos vir die siel
Die ou OTK gebou het in die jare toet boerebenodighede verkoop wat gebruik is om kos vir die nasie te verbou.
Van 18 tot 20 April bied Cefas op Stoffberg, in dieselfde gebou, kos vir die siel.
Die goeie nuus is dat dit spotgoedkoop is en almal is welkom!
Kom verkeer intiem met die Verlosser.
Kaartjies beloop R100 vir die hele naweek.
Meer as 130 bedienings, in die vorm van orkeste, sangers, kunsternaars en mense wat getuienis gaan lewer verseker dat almal ‘n plek sal kry waar hulle tuis voel.
Iets vir almal.
Sewe afsonderlike areas bedien vroue, mans en die jeug.
Daar is ook kunsbediening, die Praise and Worship verhoog, ‘n salon waar jy jou hare kan laat doen terwyl iemand jou met die Woord bedien, ‘n verhoog waar jy na getuienisse kan luister soos die van Middelburg se eie Johan Welsh asook bekeerde ateïs Cheryl van der Pal en Olimpiese goue medalje wenner Lyndon Ferns.
‘n Fliekteater gaan 12 van die nuutste Christelike flieks wys.
Hekke open Vrydag 18 April 08:00 met die eerste verrigtinge by die afsonderlike areas wat om 10:00 begin.
Om 19:00 elke aand kom die hoofverhoog tot lewe wanneer groot name soos Joe Niemand en Danie Botha die mikrofoon optel.
Hekke sluit saans om 23:00.
Die Cefas bergfietsresies.
Op Saterdag, 19 April, maak die hekke 06:00 oop om vere reg te skud vir die bergfietsresies.
Die wedren bestaan uit 65km, 36, 15 en 5km bene en word in samewerking met die Middelburg Fietstyklub aangebied.
Van beginners tot die mees ervare fietsryers sal hierdie resies geniet.
Organiseerder Willem Enslin sê dat hulle iets wou bied wat pret is, wat families of paartjies saam kan doen en wat die geleentheid bied vir mense om God in die natuur te aanbid.
Ouers wat graag aan die resies wil deelneem kan hul kleuters en peuters met ‘n geruste hart by die Kruiskyk bedieningspan los.
Vir meer inligting oor die kindertoesig bel vir Brenda Vorster by 061 421 9416.
Registrasievorms kan oor die internet van www.cefas.tv afgetrek word.
Vir meer inligting bel Harry van Rensburg 078 330 9889 of Peet Kruger 084 555 1806.
Kom kamp saam Die kampterein by Cefas bied warm storte en ablusiegeriewe.
Wie wil nou 23:00 die aand êrens anders heen ry? Dit kos slegs R50 per motor.
Vir navrae of besprekings bel Salome Botha 082 451 6721.
Indien jy ‘n gastehuis verkies, gaan kyk op die Cefas webtuiste vir ‘n lys van alternatiewe huisvesting.
