Al kon sy nie die Loskop marathon hardloop nie, sal die koedoekoptrofee vir Engela Mellish altyd aan die 2014 wedloop herinner.
Die reuse koedoebul is Saterdag in die vroeë oggendure in Kranspoort raakgery toe die Mellish-egpaar oppad was na die wegspringpunt in Middelburg.
Mnr. Douglas Mellish sê hy en sy vrou, Engela, was vanaf ’n lodge na die dorp onderweg sodat sy aan haar 11e Loskop ultra marathon kon deelneem.
“Die koedoebul het stadig oor die pad geloop, maar ek kon nêrens heen uitswaai nie, want weerskante van die pad was dongas en ek het die dier getref.”
Met die impak van die slag het ’n gedeelte van die koedoe die windskerm getref en sy kop omgeswaai, waar die horing die metaal van die passasierskant se deurraam binnegedring en oopgebuig het.
Omdat hul windskerm versterk is met “Smash en Grab” het dit nie gesplinter nie, maar wel geweldig gekraak en na binne gedruk. Me. Mellish se kop het hierdie gedeelte van die venster getref en ’n sny in haar gesig opgedoen.
Binne ’n kort tydjie het verskeie mense op die toneel gestop en hulp aangebied. Me. Mellish se suster in Middelburg, me. Annatjie Pretorius, het ook van die ongeluk gehoor en was nog betyds om na die toneel te jaag voordat die pad gesluit is.
Hulle het me. Mellish na die Midmed Hospitaal gevat, maar omdat sy nie haar identiteitsdokument by haar gehad het nie, kon sy nie dadelik behandeling ontvang nie.
Me. Pretorius het haar na ’n plaaslike dokter geneem, waar sy vir die sny en vir ’n seer nek weens sweepslag behandel is.
Weens die beserings kon sy nie aan die wedloop deelneem nie.
Mnr. Mellish moes by sy voertuig bly tot omstreeks 15:00, omdat die pad gesluit was en die insleepdienste nie kon deurkom nie.
“Ek was nie warm aangetrek terwyl ek gewag het nie en is nou siekerig omdat ek koue gevang het!” het hy gesê.
Die koedoe is kort na die ongeluk deur een van die boere wat op die toneel aangekom het, doodgeskiet.
Die egpaar het die koedoe se kop laat afsny “sodat ons ’n trofee kan laat maak om die dag te onthou.” Mnr. Mellish sê die horings is 50 duim lank.
• Die organiseerders van die Loskop marathon het me. Mellish genooi om op 1 Mei aan die postwedren saam met die klublede deel te neem.
• Mnr. Mellish wil graag die volgende persone bedank vir hul hulp: Jean Malan en ander klublede van die Middelburg Marathonklub, polisielede, asook ambulansmanne op die toneel.
• Die egpaar bly op Hartebeespoortdam en me. Mellish sou vanjaar vir die “New Ballance”-klub deelneem.