Skenk jou ou boeke
Almal weet dat onderwys belangrik is. Dat daar instansies is wat met bittermin hulpbronne moet klaarkom is ook geen geheim nie. ’n Oud Middie het besluit om hierdie probleem trompop te konfronteer.
Enige iemand wat opvoedkundige boeke, of dit nou ou skoolhandboeke of woordeboeke het wat hulle nie meer gebruik nie, kan nou help om ’n bydrae tot iemand anders se onderrig te maak.
Skenk jou boeke vir die Edu Books-projek.
Inge Kleynhans, wat tans medies swot, loods die projek in Middelburg in ’n poging om leerstof aan behoeftige instansies beskikbaar te stel.
Sy sê haar passie is openbare gesondheid. Sy glo aan “Charity begins at home” en wil deur middel van die projek probeer om ’n verskil in haar tuisdorp te maak.
Die plan is eenvoudig: Deelnemende skole neem die skenkings van hul leerlinge in ontvangs. Dit word dan met behulp van die onderskeie skole se leerlingrade gesorteer. Van daar sal dit versprei word na geïdentifiseerde instansies of skole wat deur middel van die skenkings kan baat vind.
Laerskool Dennesig, Laerskool Kanonkop, Laerskool Middelburg, Hoërskool Middelburg en die Hoër Tegniese Skool, neem deel aan die projek.
Die skool, klas en individu wat die meeste boeke skenk sal elk ’n prys ontvang. Die projek sal vir die verloop van die tweede kwartaal aktief wees.
Individue wat boeke wil skenk kan me. Kleynhans bel by 076 309 5774 of vir haar ’n e-pos stuur na ikleinhans@yahoo.com.
Indien daar nominasies is vir instansies of skole as ontvangers van die skenkings kan hulle ook met me. Kleynhans in verbinding tree.
