Rassie nie van Randfontein
Rassie is nie van Randfontein nie. Rassie bly al amper ses jaar in Middelburg. Hy is 'n dwelmslaaf wat van besigheidseienaar tot hawelose swerwer gedaal het.
Mense wat vir Rassie ken, het die Middelburg Observer gekontak nadat daar ‘n foto van hom gepubliseer is.
Hy het vir ‘n paar dae in ‘n vervalle motortjie by die Midwater Engen vulstasie gesit.
Rassie het aan joernaliste gesê dat hy van Randfontein af is en in Middelburg kom werk soek het. “Hy het sy laaste geld vir brandstof gebruik en is in Middelburg gestrand toe hy nie werk kry nie.
Rassie het egter nie mooi kopgehou nie. ‘n Foto van hom is met sy toestemming geneem.
Dit het in verlede week se uitgawe gepryk en het die deure van die kas waarin hy sy geraamtes probeer wegsteek laat oopswaai.
Die Dawson egpaar vertel dat hulle vir Rassie en sy vrou Janetta al jare lank ken. “Hulle was maar al die tyd hier in Middelburg.”
Voordat Rassie ‘n hawelose met pleitende oë in ‘n ou kar geword het, het hy sy eie besigheid besit. Hy is ‘n gekwalifiseerde outo elektrisiën.
Nadat hy sy besigheid verloor het, het Rassie vir iemand anders gewerk. Dit het ook nie lank gehou nie.
Nou swerf Rassie en Janetta rond. Hulle dogtertjie is van hul weggeneem en in die sorg van familie geplaas.
“Die laaste keer wat ek Rassie gesien het was by die Middelburgdam. Hulle het gebel vir hulp.
Toe ons daar kom was die twee oortrek van die sere. Ek het net daar besluit genoeg is nou genoeg. Ek hoef nie toe te laat dat my kind sulke goed sien nie.”
Hulle is blykbaar verslaaf aan Methamphetamien, op straat bekend as crystal of tik.
Die Dawsons sê dat dit snaaks is dat Janetta nie saam met Rassie was nie. “Die twee is gewoonlik onafskeidbaar.”
•Lees elders wat Rassie se broer Wessel vertel en waar Janetta haarself tans bevind.
