Zagrys weer in die osoonsop
Die osoon-man, Zagrys Pieterse en sy verloofde, Alicia Smit, is Dinsdag in Pretoria Moot gearresteer vir bedrog.
Beide het Donderdag in die hof verskyn waar borg van R500 aan elk toegestaan is.
Hulle moet weer op 17 April in die hof verskyn terwyl die bedrogklag teen Pieterse in eMalahleni ook steeds in die hof sloer.
Hy is op 1 Augustus 2013 by die Wimpy in ’n lokval deur die polisie gearresteer.
Pieterse is intussen uitgevang dat hy vals identiteite op radiostasies gebruik om sy osoon-masjiene te bemark.
Hy het openlik aan die Observer erken hy gebruik die naam Andries in plaas van Zagrys en dat hy sy besigheidsnaam ook moes verander.
Alicia het na Zagrys se arrestasie verlede jaar, as die gesig van die besigheid oorgeneem sodat Zagrys ’n lae profiel kon handhaaf.
Hulle arrestasie verlede Dinsdag spruit uit ’n transaksie met me. Willani Muller van Pretoria wat in Februarie ’n R13 000 mini-osoonmasjien by Pieterse gekoop het.
Sy het Dinsdag vertel dat sy Pieterse in Februarie hoor praat het van die wonderkuur masjien oor Radio Pretoria en beweer hy het haar geld gevat maar nooit die produk gelewer nie.
Weens haar noue betrokkenheid by die transaksies, is sy ook gearresteer.
Me. Muller sê dat sy Pieterse opgespoor het deur die privaat speurder Mike Bolhuis, wat ander sake teen Pieterse ondersoek.
Pieterse sê dat hy bewyse het dat “dieselfde mense agter al die probleme sit”.
Hy sê hy kan bewys dat Muller opsetlik die transaksie in die wiele gery het deur valse inligting te verskaf.
Volgens Pieterse aanvaar sy maatskappy nou net kontant-by-aflewering na installasie van masjiene.
Die Observer kan bevestig dat talle klaers kontak met mekaar het en Pieterse se bewegings fyn dophou.
Muller het ook aan die Observer erken dat sy Bolhuis behulpsaam is met ander ondersoeke.
