Koudbloedige in plaas van paaseiers
'n Gesin in Clubville het Paasoggend nie met paaseiers wakker geword nie, maar met 'n koudbloedige besoeker.
“Kyk wat kry ek in my paaseier,” het Marius en Tokkie Marais gesê. Hulle het ‘n foto van die likkewaan op hul voorstoep op die Middelburg Observer se Facebook gelaai.
Die Marais gesin, wat in Robertsonstraat bly, het die DBV vir hulp gebel. Petro Oberholzer van die Middelburg DBV sê dat die reuse meneer, wat sy amper ‘n meter en ‘n half lank skat, hulle vinnig ontglip het.
“Hy was heeltemal te vinnig vir ons. Hy het oorgeglip na die bure se erf en hulle was nie tuis nie.”
Uit kommentaar op Facebook blyk dat dat Faan Likkewaan duidelik ‘n liefde vir die Buiteklub het. Hy moet al ‘n indrukwekkende voorgee hê omdat hy glo baie tyd op die gholfbaan deurbring.
Thea Postma het ‘n foto van dieselfde likkewaan op die Middelburg Observer groep gelaai. Sy het gesê dat hulle honde Donderdagnag, 17 April, erg geblaf het. Toe hulle ondersoek instel het hulle vir Faan daar gekry.
“Ons het die hek oopgemaak en hom uitgejaag en hy het dadelik padgevat gholfbaan toe.”
Carol Cullen het laat weet dat sy hom ‘n rukkie terug in haar erf in Stuart Cloetestraat gekry het. Hy het toe ook oor die muur geklim na die gholfbaan toe.
•Andries Scheepers, baanopsigter by die Middelburg Buiteklub, sê dat hulle gereeld vir Faan Likkewaan sien.
“Party van die ouens is maar skrikkerig as hulle balle uit die water haal, maar hy is skadeloos.”
Mnr. Scheepers meen dat Faan nie die enigste likkewaan is wat op die gholfbaan bly nie. Hy sê buiten vir die likkewane is daar ook otters.
“Hulle eet maar meestal klein eendjies en visse hier uit die damme. Met die spruit het hulle ook toegang tot die Klein Olifants.
•Jannie Coetzee, van die Loskop Natuurreservaat, sê Faan is ‘n waterlikkewaan (in Engels bekend as die Water of Nile Monitor Lizzard.) Die likkewane kan tot twee meter lank word. Mnr. Coetzee glo dat die likkewaan heel gelukkig by die gholfbaan kan bly, solank daar vir hom plekkies is om weg te kruip.
Hy is skadeloos vir mense en sal net byt of met sy stert slaan as hy vasgekeer word of as iemand hom probeer hanteer.
Waterlikkewane is vleisvretend en sal enige iets van krappe, vis, voëls en klein soogdiere soos muise en selfs slange eet.
As jy voel Faan is nie welkom in jou erf nie, jaag hom bloot weg. Likkewane sal vlug as hulle gekonfronteer word. As hy in jou huis beland, gebruik ‘n besem of lang stok om hom te wys waar die deur is.
“Dit is ‘n voorreg om nog wilde diere in jou dorp te kan sien. Dit beteken die rivier is redelik gesond en die ekosisteem funksioneer en onderhou roofdiere soos likkewane,” sê mnr. Coetzee.
Hy sê dat waterlikkewane bedreig word omdat hulle natuurlike habitat kwyn as gevolg van ontwikkeling en besoedeling. Hulle word ook doodgemaak vir muti of uit blote onkunde omdat mense vir hulle bang is.
•Het Faan by jou kom kuier? Stuur foto’s na jana@mobserver.co.za.
