Maar anders as Sneeuwitjie, het Rika Lowe, net vier.
Haar man Stephen, dogtertjies Abigail (3) en Khloe (2), en weekoue seuntjie Izak, is almal dwergies.
Dit kon dalk snaaks gewees het om te sê hulle word oor die hoof gesien, as dit nie was dat Stephen al drie jaar werkloos is en deesdae geen hoop meer koester vir ‘n geleentheid om te wys daar is gróót gif in dié klein botteltjie nie.
Die Lowe gesin deel ‘n huis met Rika se ouers Koos en Johanna, en die miniatuurtjies se ouma, Anna Haasbroek.
Naas Johanna se salaris as onderwyseres by Bright Star Primary, ontvang Koos en ouma Anna elk ‘n staatspensioen.
Boonop betaal hulle Rika se R20 000 Kosmos Hopsitaal rekening af na die keisersnit verlede Vrydag.
Johanna se aanwysings na die dwerghuis in Spoorwegstraat is op die man af, “soek net die lelikste huis in die straat,” sê sy sonder skroom oor hul armmansbestaan.
Die feit dat familie vir Stephen en sy telgies moet sorg, kry die man onder.
Naas sy lengte, skort daar niks met hom nie, so waar is die werk?
Hy is handig met die hande, het ‘n CAD 2D kursus voltooi, is vertroud met plasma-snyding en kan enige metaalwerk of betonwerk doen. Al wat nog kort is ‘n werk.
Sodra Stephen werk kry, is sy eerste prioriteit naas bydra tot die huishouding, om dadelik vir Khloe by ‘n spesialis te kry vir ‘n deeglike ondersoek van haar onderlyfie.
Dwergies ervaar baie komplikasies, hulle vat langer om te loop, kry gereeld boggelruggies (soos Abigial), en probleme met hul heupe, knieë en enkelgewrigte (soos Khloe), kom ook algemeen voor.
Khloe kan egter soos Stephen gehelp word met die bystand van Middelburg se grotes; die dokters, besigheidseienaars en gulhartiges.
“Ons verstaan dat Khloe geopereer sal moet word. Ons kan eet en het ‘n wankelrige dak oor ons koppe, maar vir dokters en spesialiste is ons platsak,” sê Johanna pleitend vir werk vir Stephen en mediese sorg vir Khloe.
Hoewel Middelburg se jongste dwergie ‘n stewige 3,7 kg by geboorte geweeg en ‘n allemintige 49cm gerek het, is dit tydens die bevalling bevestig hy is sy pa se kind.
Stephan word soms uitgelag as hy aansoek doen vir werk – “dink jy jy gaan die werk kan doen?” is die vraag waarmee hy altyd gekonfronteer word.
Die antwoord is ‘n weergalmende ja!
Hy is immers een uit ‘n miljoen.
• Dokters en werkgewers wat bereid is om te help kan Gerhard Rheeder van die redaksie by 013 243 1434 bel, of direk met die familie kontak maak by 079 478 8945 (Stephen) of 083 868 1663 (Johanna).
gerhard@mobserver.co.za
