News

Reuse Blinde vis gevang

Hulle sê 'n blinde hoender pik ook so nou en dan raak. Nou kan dit verander word na "'n blinde vis vat ook so nou en dan hoek".

Om ‘n reuse blinde karp van 12.46kg te vang wil gedoen wees! Mnr. Chris Nortman sê dat hy gereeld gaan hengel by die Middelburgdam. Veral die area by die boom aan dié kant waaraan die boeie vasgemaak is, is ‘n gunsteling hengelplek.

Hy het die betrokke aand sowat 30m ver sy lyn ingegooi met ‘n Tiger Nut en ‘n “Banana Floatie om hom bietjie van die grond af te lig.”

Sy lyn was skaars in, toe hy die knewel aan die lyn kry.

Daar het egter ‘n groot verrassing op hom gewag. Die karp was heeltemal blind (hy het geen oë gehad nie!).

Mnr. Nortman sê hyself en van sy vriende vang gereeld visse wat sonder een oog is. Dit was egter die eerste keer dat hy ‘n vis vang met géén oë nie.

Hy vermoed in dié geval dat die Kormorant voëls een van die skuldige partye kan wees. Hierdie voëls vang baie vis en kan selfs visse se oë uitpik.

Mnr. Nortman sê dit is ‘n duidelike teken dat visse beslis nie net van hul sig gebruik maak nie. Hul reuksintuig is baie goed ontwikkel en hulle maak ook staat op die laterale lyn aan die kant van sy lyf waarmee hy vibrasies kan aanvoel.

‘n Baber byvoorbeeld het baie klein ogies en sien amper niks, maar hy het dieselfde reuksintuig as ‘n haai en kan ‘n druppel bloed in ‘n area so groot soos twee Olimpiese swembaddens ruik!”

Volgens mnr. Nortman groei ‘n vis sowat ‘n kilogram per jaar as die toestande gunstig is en hy skat die ouderdom van die karp wat hy gevang het op tussen 12 en 14 jaar.

• Alle visse wat hy vang, laat hy dadelik weer vry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button