News

Jong ryer ‘breek elke been in sy lyf’

'n Vakleerling motorwerktuigkundige van Barloworld Toyota, Ruan du Plessis (20), het ernstige beserings opgedoen in 'n motorfietsongeluk Donderdagmiddag in Samora Machelstraat.

“My broer het, buiten sy kop, bors en rug, elke ander been in sy liggaam gebreek,” het Louwrens du Plessis Maandagoggend gesê.

Ruan het met sy Suzuki GSXR 750 motorfiets van Midwater Spar se kant af afgery in Oranjestraat in die rigting van die begraafplaas. Sy motorfiets het toe gebots met ‘n silwer Audi Q3, wat vanaf die begraafplaas se kant af, afgedraai het dorp se kant toe in Samora Machelstraat.

Remmerke soos Ruan probeer stop het, het vir etlike meters ver op die pad gelê.

Volgens Louwrens het ‘n vrou op die toneel gesê dat sy gesien het hoe Ruan aangery kom. “Sy het gemeld dat hy stadiger gery het oppad na die groen verkeerslig, maar gesien het dat dit groen is en toe weer sy normale spoed hervat het. Volgens haar het hy nie vinnig gery nie.”

Met die geweldige impak van die slag is die Ruan van sy motorfiets afgeslinger. Met paramedici se aankoms op die toneel is vasgestel dat sy linkerduim in die ongeluk afgeruk is.

Louwrens vertel dat Ruan op die toneel vir die vrou sy selfoon gegee het om sy familie te bel. Lourens het vanaf eMalahleni na die toneel gejaag en was ontsteld toe hy sy broer se beserings sien. “Ek het vir my pa gesê hy moenie na die toneel toe kom nie en ons by die hospitaal ontmoet.”

Die erg beseerde jongman is dieselfde aand vanaf die Life Midmed Hospitaal per helikopter na die Milpark Hospitaal oorgeplaas, waar hy sedertdien in die intensiewe eenheid onder sedasie gehou word en aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel is.

Ruan se pelvis is gebreek en beide sy linkerarm – en been is vergruis. Daar is ook verskeie ander breuke aan sy regterarm en -been.

Dokters het tydens ‘n operasie reeds eksterne penne in sy arm en been ingesit om die bene in plek te hou. Die gesin is in kennis gestel dat daar hierdie week nog drie operasies sal volg. “Hulle sal begin opereer en kyk hoe sy liggaam reageer. Die dokter sê daar sal die volgende twee maande nog verskeie operasies volg en Ruan sal dus die hele tyd in die hospitaal wees.”

Ruan het die motorfiets in Augustus verlede jaar gekoop. “Dit was sy pride en joy. Hy sou nooit ontverantwoordelik gery het nie.”

Hy het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om vir Ruan se spoedige herstel te bid. “Dit is al wat Ruan nou gaan help.”

• Ruan is ‘n oud-leerling van HTS Middelburg en staan onder sy vriende bekend as “Wors”.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button