VIDEO: Inbrekers seil op vloere rond
Die weddenskap agentskap, BET SA, was in inbrekers se teiken toe hulle deur drie besighede by die Midpark Sentrum gebreek het om uiteindelik 'n gat in 'n muur te kap om by dié agentskap se kluise uit te kom.
Werknemers van drie van die besighede was omgekrap oor die skade aan die winkels, maar was verstom omdat daar niks gesteel is nie.
Dit was duidelik wat die inbrekers net gekom het vir BET SA se kluise.
Hul inbraaktog het begin by die haarsalon aan die voorkant van die Midpark Sentrum in Bhimy Damanestraat. Daar kan duidelik gesien word dat hulle by die toilet by die plafon ingegaan het om die alarms in die dak buite aksie te stel.

Vanaf die haarsalon is daar deur die plafon geklouter na Iraq Finance & Home Loans, waar hulle die kluis uitgehaal het. Dié kluis is teruggedra na die haarsalon en op die toilet neergesit, maar hulle het nooit weer teruggekom daarvoor nie.
Die kloutertog deur die plafon het gevorder tot by die spreekkamers van dr. Alexis Mashifane waar die groep weer afgeklim het. Dit is onduidelik hoe hulle die alarmogies gefnuik het, maar die moontlikheid bestaan dat hulle letterlik op hul mae in die winkel rondgeseil het.

By die spreekkamer is die deure van binne af oopgebreek en hul breektoerusting na alle waarskynlikheid van buite af ingedra.
Vanaf die dokter se spreekkamer is daar ‘n reuse gat deur die brandmuur (tussen die spreekkamer en BET SA) gekap, direk by die instapkluis in. Die instapkluis is toegerus met pepersproei en dit blyk dat die groep in die spreekkamer gesit en wag het dat die sproei se walms sak, voordat hulle ingeklouter het.
Daar het hulle die valkluise groot genoeg aan die bokant oopgesny, sodat die kontant onder in die kluis met hul hande raakgevat kon word.

Nadat die groep hulself gehelp het aan ‘n onbekende bedrag geld, is hulle deur die gat by die muur en weer uit by dr. Mashifane se spreekkamers.
Mnr. Jan van der Merwe (wat help met die instandhouding van die gebou), het gewys dat die inbrekers die kameras aan die buitekant van die gebou geskuif het, sodat dit na bo wys en hulle nie afgeneem kon word, terwyl hulle in- en uitgegaan het nie.
• Dit is die derde keer in die afgelope paar maande dat daar ingebreek word by die sentrum. Tydens een van die vorige inbrake het die CCTV-kameras die inbrekers afgeneem terwyl hulle aangestap kom. ‘n Mens kon duidelik sien dat een van die drie ‘n staalpyp by hom het, die ander een ‘n baksteen en die derde iets wat lyk soos ‘n handsaag.
Die vermoede bestaan dat dit dieselfde groep kon wees, want hulle het geweet daar is kameras. Een het ‘n baadjie gedra met ‘n kappie en die ander twee kepsies. Hulle het nie een keer opgekyk sodat ‘n mens hul gesigte kon sien nie.
