VIDEO: In konvooi deur Mosambiek
Skote klap weer en meer as tien mense is al dood en net soveel is beseer vandat die wapenstilstand tussen Mosambiek se Frelimo weermag en die Renamo guerillas twee weke gelede tot ’n einde gekom het.
Middelburg inwoner, Ruhan Potgieter, vertel hoe dit voel om deel van ’n konvooi te wees wat in kruisvuur vasgevang is.
Mnr. Potgieter, wat langafstand vervoer doen, sê dat hy meestal produkte vir Nestle of konstruksie maatskappye vanaf Suid-Afrika op vat na die noorde van Mosambiek.
Hy sê alle voertuie wat tussen Rio Save en Muxungue reis, in konvooi moet ry. Die roete is die enigste gangbare pad wat Maputo met die noorde van Mosambiek verbind. Die konvooi verlaat sekere punte op sekere tye en daar is soms tot 250 voertuie daarin. Mnr. Potgieter sê die langste konvooi waarin hy gery het was omtrent ’n kilometer lank.
Die groep reisigers word beskerm deur weermag voertuie aan die voor- en agterpunt. Van die weermaglede ry saam met burgerlikes. Maar dit, meen mnr. Potgieter, moet jou nie noodwendig veiliger laat voel nie.
“Hulle het aan die begin saam voor in die trokke en agterop die bak gery. Maar die ouens het begin kla omdat dit veroorsaak dat hulle geteiken word in aanvalle. Nou sê jy maar net nee as iemand van die weermag jou vra of hy kan saamry en hoop hy beweeg aan.”
Mnr. Potgieter sê dat hy met een rit amper twee en ’n half uur gestaan en wag het nadat daar op twee verskillende plekke skermutselings was waarin die konvooi aangeval is. Renamo magte teiken veral die voorpunt omdat daar weermaglede in van die vinniger voertuie versteek is.
Toe die geveg oor was kon hulle verder ry, maar nie voor ’n privaatvoertuig wat flenters geskiet is uit die pad gesleep is nie. Op die padoppervlak het daar ’n see patroondoppies gelê.
Hulle moes tydens ’n ander reis om ’n meter breë sloot ry, wat dwars oor die teerpad gegrou is. Patroondoppies wat gesaai gelê het was weereens getuie van ’n skermutseling.
Mnr. Potgieter sê dat hy gesien het hoe ’n weermagvoertuig met versteekte weermaglede op die bak verby jaag net om ’n rukkie later terug te jaag van waar hulle gekom het met ’n gewonde soldaat agterop.
Die plaaslike vragmotorbestuurders in Mosambiek meen jy moet saam met sekere minibus taxi’s ry wat mense van Gauteng af vervoer. Dit is glo omdat baie van die Renamo soldate se families op die manier huistoe kom en hulle gevegte waarin insittendes van die voertuie beseer kan word, vermy.
’n Weermagbasis is by ’n brug halfpad op die konvooi roete opgerig. As Renamo rebelle daarin sou slaag om die brug op te blaas, sal hulle die noorde en die suide van mekaar skei. Net soos wat hul leier, Afonso Dhlakama, onlangs gedreig het om te doen.
Mnr. Potgieter het laas week Dinsdag 3 Junie vir die laaste keer in die gevaarlike konvooi gery.
As daar geskiet word en jy ry in ’n trok moet jy plat op die sitplek gaan lê. As jy in ’n kleiner voertuig ry moet jy uitspring en plat op die teerpad lê.
“Die gras is lank en hulle kruip daarin weg. As jy op die teerpad lê gaan hulle jou nie so maklik raaskien as jy plat op die grond lê nie.”
Hy is tans in Mosambiek. Die kontrak wat hy het om goedere te karwei maak nou klaar.
Hy meen dat hy in die toekoms eerder van ’n alternatiewe roete deur Zimbabwe gebruik sal maak.
Dit is dalk 200 kilometer langer, maar dit hou volgens hom heelwat minder risiko in dat jy dalk deur ’n dwaalkoeël getref kan word.
Sien Video hier:
• Mosambiekse televisiestasie STV het berig dat daar by die Muxunge hospitaal minstens tien mense vir skietwonde behandel is waarvan een dood is. Volgens hulle is daar in die laaste week tien mense dood, wat soldate en burgerlikes insluit.
• Vanaf 1 Junie word die konvooi wat op die noord-suid hoofweg beweeg, daagliks aangeval.
• Al word reis in sentraal Mosambiek tussen Save en Muxunge net voorgestel indien dit absoluut noodsaaklik is, is die suide van Mosambiek veilig vir toeriste met geen voorvalle van konflik wat aangemeld is nie.
• Gevegte tussen Frelimo en Renamo het sedert Oktober 2013 opgevlam nadat ’n vredesooreenkoms wat in 1992 tussen die twee magte geteken is deur Renamo beëindig is.
