Twee AMCU-man skuldig
Langverwagte uitspraak in die uitgerekte Woestalleen mynmoord verhoor van Aaron Mavimbela en Aaron Mkhize, uitgesproke AMCU lede, het in die hooggeregshof afgeskop.
Woensdag, na maandelange oponthoude in die saak wat deur die gesoute aanklaer, Erik van der Merwe, as “gedoem van die begin af” beskryf is, is Mavimbela skuldig bevind aan moord terwyl Mkhize vrygespreek is op alle klagtes.
Van der Merwe het tot dié gevolgtrekking gekom na die hoeveelste uitstel, op ’n kritiese stadium van regter Bill Prinsloo se uitspraak, toe die klankopnemer ophou werk het.
Beide mans het tereggestaan op drie klagtes elk; die moord van Jacques Naude hul voorman op 17 Oktober 2011, die besit van ’n onwettige wapen en die besit van onwettige ammunisie.
Albei het onskuldig gepleit.
Mavimbela het homself egter op die moordtoneel geplaas met sy uitwysings en verklaring wat afgelê is voor sy formele arrestasie.
Regter Prinsloo het tydens ’n binneverhoor beslis dat Mavimbela se verklaring en uitwysings hom direk tot die moord verbind het. Hy het tydens sy getuienis in die binnerverhoor verskeie verrassende uitlatings gemaak wat nie deur sy advokaat in die verhoor getoets is nie.
Terselfdertyd het regter Prinsloo sy teleurstelling teenoor die ondersoekbeampte uitgespreek weens ongerymdhede in die neem van Mkhize se verklaring, waarby hy direk betrokke was en nie moes wees nie.
Derhalwe is Mkhize se verklaring verbeurd verklaar vir die staat. Weens die aanpassing van strafprosesreëls na ’n onlangse uitspraak, kon regter Prinsloo ook nie Mkhize se betrokkenheid by die moord soos uiteengesit in Mavimbela se toegelate verklaring, teen hom oorweeg nie.
Hy is vrygespreek op die moord, wapen en ammunisieklagtes teen hom terwyl Mavimbela ook onskuldig bevind is op die klagtes wat verband hou met die moordwapen en ammunisie.
Mnr. Naude is op 17 Oktober 2011, gedurende die vroeë oggendure by ’n vervoerband op Woestalleen in die kop geskiet, tydens ’n onwettige AMCU staking.

Aanvanklik is vier mans, Mavimbela, Mkhize, Enoch Zulu en Patrick Kodisank, van die moord aangekla, maar Zulu, wat glo die sneller getrek het, is aan natuurlike oorsake in aanhouding dood.
Kodisank het vir die staat as getuie opgetree en is Dinsdag as ’n betroubare getuie deur die regter voorgehou.
Regter Prinsloo het bevind dat Kodisank se getuienis deur betroubare polisiegetuies ondersteun is.
Selfoonrekords wys dat talle oproepe op die aand van die moord tussen Mavimbela en Kodisank gemaak is.
Kodisank is R200 betaal om die drie moordbeskuldigdes myn toe te vervoer waar hulle nie-stakende myners wou gaan intimideer.

Betoeë ter versagting en verswaring van vonnis is Donderdag kort voor druktyd nog gelewer.
Die militante unie, AMCU, is steeds wêreldwyd in die nuus weens ’n vyfmaande lange staking in Rustenburg se platinum-gordel. Die unie word ook steeds wyd beskuldig vir die Marikana slagting in Augustus 2012, waarin 44 mense dood is tydens ’n AMCU staking.
