News

Man bid op ongelukstoneel

“My boetie se gesig het seergekry en ons kan nie die kis oopmaak nie, maar ons kan die foto waar mense in sy laaste oomblikke vir hom bid, op die kis sit.”

Met rou snikke wat sy woorde soms verswelg het mnr. Morne Grobler Woensdagmiddag sy dank uitgespreek omdat daar vir sy broer, Quintin, op ’n ongelukstoneel gebid is.

Sy oproep het eers begin met woede. ’n Woede wat uitgeskree is omdat hy nie kan aanvaar dat sy boetie so skielik dood is nie. “Hy was my tweelingboetie. Ons het ál die eerstes gedeel, die eerste seerkry, die eerste van alles. ’n Groot gedeelte van my is net weg!”

Die joernalis se woorde dat mnr. Schalk Brits sekondes nadat Quintin dood is, begin bid het en dat mense ’n kring om hom gevorm het, het Morne sonder woorde gelaat en sy emosies het hom so oorweldig dat hy die oproep beëindig het.

Kort hierna het hy weer teruggebel.

“In al hierdie hartseer wat ek sukkel om te aanvaar dat my broer dood is, is dit ongelooflik dat daar iemand was wat vir hom gebid het. Dit is verskriklik dat my boetie dood is, maar dit is wonderlik dat daar mense is wat omgee. So baie dankie…”

’n Halfuur later het nog ’n sms gevolg: “Vreeslik dankie dat jy my oproep gevat het vandag. Dit help.”

Mnr. Brits is baie nederig oor die gebeure en het net gesê: “Ek is nie ’n held nie. Daar was niks anders wat ek kon doen nie. Ek het berusting gekry toe ek begin bid.”

Mnr. Brits was die tweede persoon Saterdagmiddag op die toneel waar ’n VW Golf ’n boom getref het in Slegtkampstraat.

Hy het gesien dat mnr. Kobus Roberts reeds nader gehardloop het om hulp te verleen. Mnr. Roberts het die beseerde mnr. Stoffel Swart deur die kattebak uit die wrak gehelp.

Mnr. Brits het nadergehardloop en gesien dat daar ’n man in die passasiersitplek vasgepen sit. Hy het die erge kopwond gesien en aangeneem dat die persoon reeds dood is. Mnr. Quintin Grobler het egter begin beweeg en mnr. Brits het by hom gaan staan en vir hom gesê “om net rustig te lê”.

Hy was die hele tyd op die toneel en het gekyk hoe die paramedici vir mnr. Grobler se lewe veg. Toe mnr. Grobler dood verklaar is, het mnr. Brits nader gestaan en begin bid. Die mense op die toneel het ook almal nader gestaan en ’n reuse kring om die toneel gevorm tot mnr. Brits klaar gebid het.

“Ek wil net hê sy vrou moet weet: iemand het vir hom gebid…”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button