News

Marais terug uit Zimbabwe

"Zimbabwe is fenominaal. Ek sal verseker weer terug gaan soontoe."

Middelburg inwoner Pieter Marais is terug in Suid-Afrika nadat hy vir meer as ‘n maand in Zimbabwe vasgekeer was.

Mnr. Marais, wat vir mnr. Frikkie Lutzkie werk, sê dat hy op 17 Mei na Zimbabwe is om ‘n ogie op Doddieburn te hou, terwyl sy werkgewer nie self op die plaas kon wees nie.

Omdat hy nie ‘n salaris in Zimbabwe verdien nie, het mnr. Marais op sy visa gemerk dat hy vir vakansie in die land is.

Hy is later aangekla dat hy die immigrasiewette van die land oortree het.

“Die meeste van die tyd moes ek vir die regering werk. Ek moes hulle oral rondvat. Toe word daar gereken dat my visa verkeerd is.”

Mnr. Marais sê dat hy van sy aankoms op die plaas tot en met sy ingehegtenisname op 22 Mei die heeltyd besig was om amptenare van burgerlugvaart en immigrasie by te staan waar dit van hom verlang is.

Dit volg nadat ‘n helikopter, wat aan mnr. Lutzkie behoort het, vroeër in die maand op die plaas neergestort het.

Toe owerhede die Sondag vir hom sê dat hulle nou Beitbrug toe gaan om sy probleme te gaan oplos, het hy geen idee gehad dat hy die nag in aanhouding sou deurbring nie.

“Hulle het die heeltyd gesê ek moenie bekommerd wees nie, alles is reg, maar dit was nie.”

Hy is direk na die Beitbrug polisiestasie geneem en was glad nie by die grenspos nie.

Op Maandag, 23 Junie, is hy van die polisieselle na die tronk oorgeplaas.

Vandaar is hy na die Gwanda polisieselle en toe weer na die Gwanda tronk geskuif.

Mnr. Marais sê dat die omstandighede in die tronke haglik is.

Volgens hom maak die tronk staat op kosskenkings van die Rooi Kruis.

As daar nie skenkings inkom nie, is daar nie kos nie.

“Jy kry ‘n vyfgangmaaltyd in die tronk. Dis pap, pap en dan nog pap.”

Daar is ook nie lopende water nie en jy moet botteltjies en emmers volmaak voordat jy die sel ingaan om te verseker dat jy iets het om te drink.

As iemand nie mnr. Marais se bakkie by ‘n vulstasie herken het nie, sou sy mense nie eers geweet het dat hy in Beitbrug aangehou word nie.

Hy is verbied om kontak met enige iemand, selfs sy prokureur te hê.

“Toe hulle uitvind ek is in Beitbrug kon hulle darem vir my kos en ‘n tandeborsel stuur.”

Hy is op borg vrygelaat nadat hy vir ‘n week aangehou is.

Mnr. Marais het verlede Donderdag 19 Junie, skuldig gepleit op ‘n aanklag dat hy die immigrasiewette van Zimbabwe oortree het.

Hy is ‘n $100 boete opgelê, maar is nie gedeporteer nie.

Toe sy paspoort aan hom teruggegee is, is mnr. Marais dadelik immigrasiekantore toe om sy visa, wat twee dae tevore verval het, te hernieu.

Ten spyte daarvan dat die hof ‘n bevel uitgereik het dat mnr. Marais nie gedeporteer mag word nie, is dit toe presies wat die owerhede gedreig het om te doen.

“Toe die vrou agter die toonbank vir my sê ek hoef nie bekommerd te wees nie, alles is reg. Toe sê ek vir haar ek raak juis bekommerd as hulle dit sê, want dit is wat hulle laas ook vir my gesê het.”

Mnr. Marais is toegelaat om Vrydag terug te vlieg na Suid Afrika toe.

“Ek is mal oor Zimbabwe. Die land is pragtig en die mense is vriendelik. Dit is net sekere tipes wat hulle muscles probeer flex om te wys wie is baas. As jy soontoe gaan, maak seker jy tick die regte blokkie. Laat hulle eerder daar vir jou te veel vrae vra as wat hulle later moeilikheid maak.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button