VIDEO: Dief sluip in by kombuis
’n Dief het gebukkend by ’n kombuisdeur ingesluip en blitsig ’n skootrekenaar van ’n tafel afgesteel, terwyl ’n vrou in haar slaapkamer nog op die bed gelê het.
Die vrou (wat anoniem wil bly) vertel dat sy verlede Woensdag bietjie later as gewoonlik gelê het, omdat dit so koud was.
Toe sy kombuis toe gaan om koffie te maak, het sy yskoud geword, want alhoewel die laaiers van die skootrekenaar daar was, was haar skootrekenaar skoonveld.
Sy het dadelik die videomateriaal getrek van CCTV-kameras buite en binne die huis, waarop sy duidelik die gebeure kon sien.
Die booswig loop in by die hek en kyk rond waar hy toegang tot die huis kan verkry.
Dan loop hy óm die huis. Die gesin weet nie hoe hy by die kombuisdeur ingekom het nie, want die slotte is nie gebreek nie.
Die volgende videomateriaal wys hoe hy gebukkend insluip en die skootrekenaar gryp.
Die laaiers maak dit vir hom moeilik om weg te loop met die rekenaar, waarop hy dit doodluiters ontkoppel en weer uitstap.
Die buitenste video wys hoe hy die skootrekenaar onder sy baadjie versteek en rustig in die straat wegstap.
• Die voorval het plaasgevind by ’n huis naby Kanonkop Superspar.
As iemand die dief herken, kan hulle adj. Trompie Tromp by die Middelburg Speurtak bel by 013 249 1440.
Hy was netjies geklee en het Nike-tekkies gedra.
