VIDEO: Brian gaan weer spring
'n Oud Middie wat in April by die dood omgedraai het, nadat hy 'n valskermongeluk gehad het, sê dat hy binnekort weer gaan spring.
Skokkende videomateriaal wys hoe Brian Boynton (31) tydens ‘n valskermspringbeweging, bekend as swooping, te vinnig inkom om te land.
Nadat hy met die grond kennis maak, tol hy meters ver soos ‘n lappop.
Mnr. Boynton is kritiek in die Kosmos Hospitaal opgeneem waar sy lewe vir dae aan ‘n draadjie gehang het.
Drie maande later is mnr. Boynton terug op die been.

Hy sê dat hy klaar terug is in die gimnasium en ook begin fiets ry het om sy fiksheid te verbeter.
“Baie van die plekke is nog styf, soos my voet, maar ek voel dat ek oor ‘n paar weke weer reg gaan wees om te spring.”
Mnr. Boynton sê dat sy familie aan die begin erg daarteen gekant was toe hy dit begin noem het dat hy dalk weer gaan spring.
Sien Video hier:
“Dit is ‘n passie. Hulle besef dit nou.” Hy sê dat hy intussen al ‘n paar maal saam met ander valskermspringers gevlieg het as hulle gaan spring.
“Sodra ek weer 100 meter flatout kan hardloop is ek reg om te spring. Ek skat so oor drie tot ses weke.”
Volgens hom sal hy swooping vir eers los en fokus op formasie valskermspring waarin ‘n span in die lug verskeie formasies vorm, voordat hulle hul valskerms oopmaak.
