News

Paartjie beide ‘dwelmmuile’

'n Egpaar van Middelburg sit beide in oorsese tronke, duisende kilometers van mekaar, nadat altwee gevang is vir dwelmsmokkelary.

Sydney Cilliers is aan die begin van Junie in Peru gearresteer. Hy word tans in Lima aangehou en staar enigiets van ses tot 15 jaar tronkstraf in die gesig, afhangende van hoeveel dwelms hy by hom gehad het.

Omstandighede rondom Sydney se arrestasie is nog vaag. Daar is bevestig dat hy in Callao, wat deel van die stad Lima uitmaak, aangehou word op klagtes wat verband hou met die smokkel van dwelms.

Sy vrou Laura is skaars twee weke later in Nieu Seeland met 1,2 kg heroïen betrap terwyl sy gepoog het om die land deur middel van die Christchurch lughawe binne te gaan. Volgens die New Zealand Herald is sy deur doanebeamptes voorgekeer omdat sy siek gelyk het.

Laura het van die dwelms, in waterdigte pakkies, gesluk. Een van die pakkies moes chirurgies verwyder word nadat daar vrese was dat dit in haar liggaam kon bars. Die res is tussen haar bagasie en aan haar gevind.

Sy het verlede Donderdag aan die hof erken dat sy dwelms in haar besit gehad het en gepoog het om dit die land in te smokkel.

Die Cilliers egpaar is in Desember in Middelburg getroud nadat hulle by ‘n plek vir haweloses ontmoet het. Volgens mense wat die twee ken, het hulle ‘n swerwersbestaan gevoer en staatgemaak op aalmoese van die publiek.

Hulle het op straat beland nadat hulle, tesame met nog ‘n persoon net bekend as Walter, gevang is in besit van dagga en uit die sentrum vir haweloses geskop is.

Sydney Cilliers is tans in Peru, Suid Amerika, in aanhouding op dwelmverwante aanklagtes.
Sydney Cilliers is tans in Peru, Suid Amerika, in aanhouding op dwelmverwante aanklagtes.

Die saak is vermoedelik voorlopig teen Sydney teruggetrek nadat die staatsaanklaer in kennis gestel is dat hy in Suid Amerika aangehou word. Niemand plaaslik het egter toe al kennis van Laura se arrestasie gehad nie en daar is ‘n lasbrief vir haar inhegtenisneming uitgereik.

• In ‘n handgeskrewe briefie vertel Sydney van die haglike toestande waarin hy aangehou word. Hy sê dat sy oë soms sukkel om te glo wat hulle sien.

Aan die een kant van die briefie is daar geskribbel “Bid vir my”.

‘n Persoon wat in Peru bly en die tronk waarin Sydney hom bevind weekliks besoek het, vertel dat prisoniers daar hul weg in die tronk moet oop koop. Jy betaal vir die blok en sel waarin jy bly en moet ook self sien en kom klaar met goed soos tandepasta, beddegoed, kos en klere.

Die persoon het vertel dat Sydney op die oomblik net een stel klere by hom het en geen hulp van buite af kry nie, omdat hy niemand daar ken nie.

Back to top button