Video: Plaasaanvalle meer brutaal
Die No Guts, No Story, No Glory-seminaar vir joernaliste is amper mondig, met die 20ste suksesvolle seminaar wat verlede Donderdag en Vrydag (21-22 Augustus) by Olifants River Lodge aangebied is.
Die seminaar Vrydag, is voorafgegaan deur ’n skaap op die spit en die olierige gesigte van die 80 joernaliste en redakteurs van reg oor die land, het getuig van die feesmaal waartydens sprekers en joernaliste ook skouers met ’n paar spesiale gaste, soos die plaaslike munisipale bestuurder mnr. Willie Fouché en die polisie se kaptein Khanysile Zwane, kon skuur.
Voor die bosveld ete het die bekende sielkundige, mnr. Henning Gericke, wat al die Springbokke, Proteas, Bafana en die olimpiese span, tot groter hoogtes gemotiveer het, die joernaliste toegespreek oor kampioene, hoe hulle gemaak word, en hoe om die wengees te handhaaf.
Sy boek, getiteld Inspiring Champions, is deur die opgesweepte joernaliste na die praatjie opgeraap en die boek is tans beskikbaar by die meeste afsette.
Hoewel die windjie Vrydag tot die been gesny het, het almal se harte warm geklop vir wat sou voorlê.
Die seminaar is afgeskop met ’n insiggewende praatjie oor die toekoms van renosters in Suid-Afrka, en wat in die Kruger Nasionale Park gedoen word om die voortslepende stropery te keer – “Dit sal egter jammerlik nooit stop nie,” was die duidelike boodskap van afgetrede generaal Johan Jooste, wat die taktiese anti-stropingsveldtog in die wildtuin lei.
Hy het meer lig gewerp op hoe die wildtuin die voortbestaan van renosters wil verseker deur diere uit te plaas na ander plase en reserwes, sowel as die samwerkingspakt tussen die wildtuin, sy konsessies, die omliggende gemeenskappe en privaat grondeienaars.
“Die diere behoort aan die gemeenskap, en sodra dié beslangrike boodskap ingeprent word, sal die gemeenskappe ook die leiding neem in die oorlog teen georganiseerde sindikate,” het hy gesê.
Tweede aan die beurt was Sanlam se Rean van Wyk, wat oor kanker gesels het, en wat jy kan doen om te verseker dat jy finansieel daartoe in staat is om die siekte te beveg na diagnose.
Joernaliste het gesit en hande vryf vir die derde spreker, die afgetrede forensiese veldspesialis kolonel Anton Crafford, wat duisende geweldsmisdade bygewoon het om forensiese bewyse te versamel, en eindelaaste daartoe bygedra het dat duisende moordenaars, verkragters en rowers aan die pen ry.
Kolonel Crafford se bespreking oor misdaadtonele en hoe joernaliste dit moet benader, het rillings by selfs die gehardste joernalis se ruggraat afgestuur weens die grafiese natuur van die voorlegging.
Me. Latiefa Mobara, se praatjiehet gehandel oor haar rol in die ketting van klagtes waarmee die persombusman, mnr. Johan Retief, daagliks gekonfronteer word.
Mnr. Retief, wat ook teenwoordig was, is telkens by die praatjie ingebring, en sy verduidelikking oor die aard van klagtes en hoe dit beslis word, was van kardinale belang vir die waghonde van die gemeenskap.
