Video: Wat wou ‘n vark!
Die bure sê die vlieë pla, maar Dirk Viljoen sê sy twee varke gaan nêrens, want hulle is soos kinders in sy huis!
Die gesondheidsafdeling het hom verlede Vrydag besoek en gesê hy moet ontslae raak van sy twee varke, Lily en Babatjie. “Die bure het gekla oor die vlieë, maar die bure moet hul erwe skoon hou en die vlieë in hul eie erf hou!” het mnr. Viljoen uitgeroep.
Hy was sowat drie jaar gelede ook in die nuus toe bure gekla het omdat hy soveel diere op sy erf aangehou het. Daar was slange, hoenders, ganse, ‘n paar varke, voëls, honde en selfs ‘n papegaai.
Die Viljoens het van die meeste van die diere ontslae geraak toe hulle ‘n ruk uit die dorp was. Lily en Babatjie het egter oral saamgegaan. “Hulle is dan in ons kamer gebore!”
Die varke reageer net soos enige troeteldier wanneer mnr. Viljoen iets lekkers uit sy sak haal. Lily gaan sit plat op haar boude, gee ‘n “oink” en vat ‘n lekkerny versigtig uit mnr. Viljoen se mond.
Net ‘n paar treë verder staan Babatjie en eet van ‘n vurk af stukkies brood wat mnr. Viljoen se vrou, Marinda, vir hom gee.
“Die gesondheidsafdeling sê ek moet ‘n plaas kry as ek die varke wil hou. Gaan hulle vir my die plaas gee? Gaan hulle optree teen ál die mense in ons dorp wat varke by hul huise aanhou? Die stadsraad maak nie eers die stukkende verkeerslig in Meyerstraat of die slaggate in ons dorp reg nie, maar nou wil hulle my kom moeilikheid gee oor my troeteldiere!”
