(Grafiese inhoud) – Renosterkoei by Loskop afgemaai
’n Renosterkoei en haar kalf is verlede week in die Loskop Natuurreservaat afgemaai, in ’n voortslepende bloedbad vir dié diere se horings.
Die koei en die bulletjie van ongeveer ses jaar, is beide of Donderdagnag, of Vrydagnag koelbloedig deur stropers afgemaai.
Beide die renosters is verlede jaar onthoring, maar die stropers kon wel daarin slaag om horing by die koei te oes.
Die koei is lewend gevind, met haar rugstring wat afgekap is.
Haar oë is ook deur die stropers uitgekap, terwyl sy deur beide haar linker en regter voorpote geskiet is.
’n Koeël het die koei se hart, longe en lewer deurboor.
Die bulletjie is ongeveer 300m van die koei se karkas gevind, nadat hy geskiet en op die vlug geslaan het.
Ekoloë vermoed dat die stropers nie die bulletjie in die gebied waar hulle geskiet het, kon vind tydens die slagting nie.
