Verkragters/molesteerders het my geknak
Die seksdade wat 'Advokaat Barbie' en haar advokaat vriend met kinders gepleeg het, het 'n geliefde polisievrou van die dorp finaal laat knak.
Sunet Coetzee (56), die vrou wat deel was van ‘n spesiale taakspan wat die saak ondersoek het teen advokaat Cézanne Visser (‘Advokaat Barbie’), het hierdie week die eerste keer oor die saak gepraat.
Me. Coetzee is in 2008 weg uit die polisie weens mediese redes. “As ek langer gebly het, sou ek die kinderverkragters verongeluk het. Mense weet nie watter impak dit op ‘n mens se lewe het nie!” vertel sy uit haar ‘Nagmaalhuisie’ in die Oos-Kaap, waar sy gaan aftree het.
Sy was vir 11 jaar lid van die polisie se kinderbeskermingseenheid, waaronder ook in Middelburg, waar sy ‘n verbete stryd gevoer het teen kindermolesteerders. Sy het veral gespesialiseer in kinderpornografie.
Die saak van adv. Barbie en Dirk Prinsloo het haar geruk. Sy is op ‘n stadium tydens die ondersoek vir sewe maande afgeboek. Met haar terugkeer het sy met die ondersoek aangegaan.
Sy was nie by die arrestasie betrokke nie, maar het die ondersoek oorgeneem nadat die ondersoekbeampte weg is.
Sy onthou die spesiale band wat sy met twee jong vroue gevorm het terwyl sy hulle ondervra en voorberei het vir die hofverrigtinge.
“Ek het die een vrou by ‘n rehabilitasiesentrum vir dwelmgebruikers gaan haal. Sy het uiteindelik daar geland na die dade wat met haar gepleeg is toe sy ‘n kind van net 11 jaar oud was!”
Hul verhale en latere getuienis onthou sy soos gister.
Die meisies was in ‘n kinderhuis en Visser en Prinsloo het hulle gaan haal om, soos in die geval van pleegouers, by hulle te kom kuier.
“Cézanne het hulle gaan uitsoek, meisies met groot borste, soos sy. Dan het sy hulle huistoe gevat en laat bad. Sy het selfs dat hulle hul beenhare skeer, want Dirk wou dit so hê. Sy het die kinders seksueel gestimuleer en ook voor hulle haarself seksueel gestimuleer met ‘n sekstoestel.”
Volgens haar het Cézanne vir een van die dogters Milo gegee waarin die bekende afspraakverkragtingsmiddel, Rohypnol, gegooi was. Die meisie is daarna verkrag.
Koerante het destyds berig dat sy erken het dat sy ook orale seks met Prinsloo gehad het voor ‘n vyftienjarige dogter van ‘n kinderhuis.
Videomateriaal met van die dade wat opgeneem is met die meisies, is tydens die arrestasie in die egpaar se huis gevind.
“In die hof is daar direk aan een van die slagoffers gevra of sy adv. Barbie sal vergewe vir wat sy aan haar gedoen het en die vrou se antwoord was, sonder aarseling: ‘nee!”
Me. Coetzee was ook op die toneel op 18 Februarie 2007 waar die sewejarige Sheldean Human se lyk gevind is, 15 dae nadat sy weggeraak het vanaf ‘n park waar sy gespeel het naby hul huis in Pretoria Tuine.
Die dogtertjie is verkrag. Haar verkragter, Andrew Jordaan (haar peetoom), is lewenslank tronk toe gestuur, nadat hy ‘n bekentenis afgelê het voor die bekende speurder, Piet Byleveld. Jordaan is later in die tronk doodgeslaan deur ‘n mede-gevangene.
So noem sy die voorvalle een vir een op en sê as nagedagte dat sy al by ‘n uitgewer was om ‘n boek te skryf. Tot op hede het sy egter nog nie sover gekom nie.
“Ek het baie verkragters gebêre en ek sou nog soveel méér wou doen. Ek mis dit om ‘n verskil te maak, maar ek kon nie meer met die verkragters werk nie.”
Haar hart sal egter altyd uitgaan na die slagoffers. “As daar iets met jou gebeur het, hou net áán om dit te vertel tot iemand jou glo! As jy dit vir jouself hou, skep dit later in jou lewe baie ernstige probleme ten opsigte van jou seksuele verhouding met jou man en ook later met jou kinders. Al het dit 10 jaar gelede gebeur, vertel dit vir iemand!”
Sy onthou ‘n saak waar ‘n prostituut ‘n man aangekla het van verkragting en die prokureur die aanmerking gemaak het “dat dit dan tog net ‘n prostituut is.”
Haar antwoord hierop is: “maak dit haar minder ‘n vrou om ‘n besluit te kan neem oor wat met haar liggaam gebeur?”
Sommige verkragters gebruik die verskoning dat die kinders toestemming gegee het. “Kinders het nie die vermoë om hul wil uit te oefen as dit by molestering en verkragting kom nie. Die verkragters gebruik ‘grooming’ (vriendskap en vleitaal) om hul vertroue te wen en slaan dan toe!”
“Sommige mense in magsposisies, soos adv. Barbie, misbruik soms hul mag om die slagoffers se vertroue te wen. Hulle is nié verhewe bo die wet nie! Hulle kén die wet en is veronderstel om te beskerm. Daarom moet hulle juis erger gestraf word!”
Sy het ter afsluiting gesê dat ‘n man nie die verskoning kan gebruik dat hy “uitgelok” is nie. “Al het ‘n meisie vrywillig saam met iemand gery en was daar ‘n warm vryery. As sy besluit het sy wil nie verder gaan nie en die antwoord is ‘nee’ en hy dwing haar om omgang te hê, is dit verkragting!”
• Adv. Barbie is op 17 Mei 2010 tronk toe gestuur. In 2012 het sy amnestie van ses maande op haar tronkstraf van sewe jaar ontvang. Sy is op 19 Augustus 2013 op parool vrygelaat nadat sy die helfte van haar sewe jaar vonnis uitgedien het. Daar is bepaal dat sy die res van haar vonnis onder huisarres sal deurbring.
• Cézanne het in 2002, kort nadat sy en Prinsloo gearresteer is vir die dade, probeer om ‘n interdik te kry teen Rapport om nie eksplisiete foto’s van die saak te publiseer nie. Haar aansoek het nie geslaag nie, maar die koerant het self besluit om nie die foto’s te gebruik nie “omdat dit nie geskik is vir ‘n Sondagkoerant nie.” Die eksplisiete foto’s van Visser, Prinsloo en ‘n derde party, is onder kinders in Centurion versprei.
Lees nog verwante stories hier:
Opvolg: ‘Middelburg Monsters’ word gevonnis
Update: ‘Middelburg Monsters’ in court

