Spontane meisie sterf in N4 ongeluk
'n Jong vrou is Sondag in die vroeë oggendure opslag dood in 'n ongeluk op die N4, oorkant die Middelburgdam.
Amoré van der Walt (18) was saam met Donovan Gildenhuys (23) op pad terug vanaf die EDE Farming plaas, waar Donovan die afgelope twee jaar gewerk het, toe die ongeluk net na middernag plaasgevind het.
Haar oupa en ouma, Johan en Joan Grobler (van Speedy Paneelkloppers), het Maandag vertel dat die twee jongmense Saterdagaand gesê het dat “hulle net gou plaas toe gaan om iets te gaan haal.” Hulle het in die vroeë oggendure die nuus verneem dat sy in ‘n ongeluk gesterf het.
Donovan is aanvanklik in die Middelburg Hospitaal opgeneem, maar ure later oorgeplaas na die Life Midmed Hospitaal waar hy sedertdien in die intensiewe eenheid behandel word. Sy pa, Deon (wat in Burgersdorp, Oos-Kaap, bly), sê Donovan word behandel vir gebreekte ribbes, ‘n gat in die long, en ‘n gebreekte regtervoet.
Na wat verneem word het Donovan se vriend, Chris Martin, van die Kaap af by hom gekuier. Donovan het die gehuurde voertuig (wat Chris op die lughawe gehuur het) by hom geleen en vir Amoré gaan oplaai. Op pad terug na Middelburg om haar huis toe toe neem, het hy beheer oor die voertuig verloor, waarop dit gerol het.
Chris het aan die Observer gesê dat hy nie kon terugkeer Kaap toe nie en het by Donovan in die hospitaal gaan kuier. “Sy toestand is ernstig!”
Me. Grobler het Amoré beskryf as “‘n spontane kind wat baie uitdagings aangepak het.”
Amoré word oorleef deur haar ma, Nicolette en suster, Anzel (17) en grootouers, Johan en Joan.
• Teen druktyd was daar nog geen begrafnisreëlings getref nie en kan me. Grobler gekontak word vir navrae by 079 114 2628.
• Amoré was ‘n oud-leerling van Laerskool C.R. Swart en Hoërskool Middelburg. Sy het die afgelope jaar gewerk by Cape Union Mart in die Middelburg Mall.

