Video: Raadop met ‘tiraniese trio’ by skool
'n Pa dreig dat planne gemaak word om die hoof van Belfast Akademie, mnr. Chris Kruger, en twee van sy beheerliggaamlede, "met geweld uit hul poste te lig, weens 'n diktatorskap wat die drie voer".
Mnr. Jan de Wet sê sy seun se selfoon is verlede maand deur mnr. Kruger gevat, nadat ‘n crimen injuria saak deur die skool teen die leerling gemaak is, omdat hy verdink word van ‘n video wat die skool in ‘n slegte lig stel.
Ten spyte daarvan dat die crimen injuria saak deur die beheeraanklaer teen die minderjarige seun laat vaar is, weier die polisie om sy selfoon aan hom terug te gee.
In die video kan mens talle jong skoolseuns sien baklei, maar die gevegte is ooglopend beplan.
In een segment sien mens hoe ‘n wit leerling ‘n swart leerling se selfoon op die grond gooi en daarop trap.
Nog ‘n gedeelte wys hoe meisies seuns op die rug ronddra, en aan die begin sinspeel die seun daarop dat leerlinge se veiligheid nie prioriteit is nie, wat hy baseer op beeldmateriaal wat geneem is tydens ‘n leierskaptoer, by ‘n hindernisbaan.
Mnr. De Wet sê dat die polisie weier om ‘n diefstalklag teen die hoof, en sy beweerde handlangers, mnr. Pieter Theart en me. Cindy Coetzee, beide op die skool se beheerliggaam, te open.
Hy sê die belaglike klag teen sy seun is deur polisiekontakte van die trio geopen.
Sedertdien word die seun glo gereeld as ‘n “krimineel wat in die tronk hoort,” onder sy maats, en selfs familielede, deur me. Coetzee uitgekryt.
Die polisie het bevestig dat die saak intussen deur die hof teruggetrek is, maar sê dat die foon steeds na die kubermisdaad-eenheid gestuur sal word vir ondersoek, op watter gronde kan hulle egter nie sê nie.
Die konflik tussen mnr. De Wet en die skool woed al ‘n geruime tyd en het nou uitgeloop op ‘n hard bewoorde brief gerig aan die Mpumalanga Onderwysdepartement, die nasionale onderwysdepartement en selfs president Jacob Zuma vir ingryping.
Mnr. De Wet sê ‘n groot groep ouers is in opstand teen mnr. Theart en me. Coetzee, wat daagliks by die skool “rondhang” en met die hoof se toestemming, kinders dwing om glimbaadjies te dra en gedurende pouses arbeid te verrig. “Hulle moet papiere optel, gruis met grawe op die skoolingang gooi, toilette skoonmaak en mure verf”.
Mnr. Theart en me. Coetzee word ook daarvan beskuldig dat hulle die kinders “hele pouses lank detensie laat staan in die son, sonder kos, water of toiletbreuke”.
Die kinders word ook gereeld, sonder waarskuwing, met metaalverklikkers deursoek vir selfone, wat afgeneem word vir ‘n boete van R300.
Mnr. De Wet het besluit om dié week die Observer te nader omdat hy nog geen terugvoer van enige departement gehad het rakende sy klagtes nie.
Hy sê hy oorweeg ‘n siviele eis teen die polisie en die onderwysdepartement weens die voortslepende skending van sy seuns se regte.
Mnr. Kruger het Dinsdag aan die Observer gesê “dis toevallig dat die koerant my skakel minute nadat die departement ‘n verslag oor die bewerings aangevra het”.
Hy het bevestig dat ‘n kantoor, met ‘n telefoon en rekenaar, vir mnr. Theart en me. Coetzee ingerig is, uit die skool se fondse.
Hy beweer die twee doen onder meer skuldinvorderings vir die skool. Mnr. Kruger sê die beheerliggaamlede waaroor gekla word, die voorsitter en ondervoorsitter is. Hy het nie ontken dat die kinders ingespan word vir harde arbeid gedurende pouses nie.
Mnr. De Wet sê “die een verkoop huise en die ander bied musieklesse aan vir ‘n lewe, so dit bied hulle genoegsame tyd om die hoof, personeel en leerlinge te hiet en gebied”.
Die departement het ‘n ondersoek na die bewerings bevestig.
• Kyk na die video wat die tiener gemaak het van Belfast Akademie:
