News

Al meer trap in dwelmstrik

’n Jong man van Marble Hall is op die Hong Kong internasionale lughawe gearresteer vir dwelmhandel.

Hong Kong doeane het in Maart ’n persverklaring uitgestuur waarin hulle sê dat hulle ’n 29-jarige man, wat van Johannesburg via Dubai in Hong Kong geland het, se handbagasie deursoek en 2,1 kg se kokaïen daarin ontdek het.

Patricia Gerber, direkteur van die Locked up in a Foreign Country organisasie, het aan Die Daller bevestig dat Michael Amos, wat in Uitbreiding 5 in Marble Hall gewoon het, tans in Hong Kong aangehou word.

Amos is voorgekeer toe doeanebeamptes die vertreksaal waarin hy gewag het om na Hanoi in Viëtnam te vlieg, deursoek het. Hy het ’n plastiek sak met ses bokse lekkergoed by hom gehad. Met nadere inspeksie is daar ontdek dat dit al die tyd kokaïen bolletjies is wat as lekkergoed vermom is deur dit met lekkergoed papiertjies toe te draai.

Daar is al te same 110 bolletjies kokaïen gevind.

Volgens die persverklaring van Hong Kong het Amos, wat beweer dat hy werkloos is, op 21 Maart in die Tsuen Wan landdroshof verskyn. Hy staar ’n klag van handel in ’n gevaarlike dwelmmiddel, ’n klag waarvoor die maksimum vonnis lewenslange tronkstraf of HK$ 5 miljoen (vyf miljoen Hong Kong dollar) wat meer as R9 miljoen is.

Daar is van ’n betroubare bron verneem dat buiten vir Amos, nog ’n meisie van Marble Hall tans verhoorafwagtend vir dwelmhandel in Maleisië is. Haar naam kon nie genoem word nie, omdat dit nie amptelik voor druktyd bevestig kon word nie.

Buiten vir die twee Marble Hall inwoners, is daar nog vier ander Suid-Afrikaners wat met Amos in kontak was wat in tronke in Brasilië en Thailand sit.

Me. Gerber sê dat Suid-Afrika besig is om een van die grootste in en uitvoerders van dwelms te word met nuwe bendes van Turkye wat ook nou hul visier op die land as halfwegstasie het.

Sy het gesê dat daar in Februarie alleen agt gevalle is waarin Suid-Afrikaners as dwelm muile in die buiteland gearresteer is.

Die fotograaf Jackie Dewe Mathews wat in London gebasseer is, het vroulike dwelm muile in die tronk in Sau Paulo gaan afneem. Sy sê in haar foto essay dat die meeste vroue daar van Suid Afrika afkomstig is.

Me. Gerber sê dat die grootste probleem nie die kwessie van dwelm muile se skuld of onskuld is nie, maar eerder hoekom daar niks aan sindikate gedoen word wat desperate Suid-Afrikaners werf nie.

“Hierdie mense word meestal as lokvinke gebruik om die aandag van die ware dwelm muile af te hou. Die regte dwelm muile doen dit gereeld en hulle word selde gevang. Hoekom wil die regering niks doen om die mense wat oorsee aangehou word terug te bring, sodat hulle kan uitvind wie hulle gewerf het nie?

“Die probleem is daar is ongelukkig net te veel polisiemanne in top posisies wat hierby betrokke is. Maar ek sal nie ophou veg nie. Hoe meer mense opstaan en saam veg, hoe moeiliker gaan dit word om ons te ignoreer. As die een deur in my gesig toegemaak word, is ek lankal besig om te soek na ’n nuwe deur.”

Jongmense met geen kriminele rekords, gewoonlik met klein kindertjies, wat desperaat is om geld te maak val maklik in werwingsindikate se lokvalle.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button