Opvolg: Ratte wil nie gevind word
Die deksel is die week gelig op die Willem Ratte museumskatte, wat tans nog by die Gondar Shellhole gestoor word.
Bakkievragte vol museum artikels is na Middelburg gebring deur mnr. Martin Kollmitz en ‘n groep vriende nadat mnr. Kollmitz volmag oor die artikels gekry het van die einste kommandant Ratte.
Mnr. Kollmitz het Donderdag ‘n interessante verhaal te vertelle gehad, wat begin het in die jare 70’s aan die Deutsche Schule Windhoek, waar Ratte sy weermagloopbaan voorafgegaan het as onderwyser.
Mnr. Kollmitz het Graad 6 en 7 wiskundeklasse by Ratte geloop.
Die twee sou jare later in die oorlogslope ontmoet, waar mnr. Kollmitz homself gereeld in Willem Ratte vasgeloop het tydens sy ontplooiing in die swaargebiedsmag.
Jare later het mnr. Kollmitz toevallig verby die Volksmoord Museum van Ratte op Balmoral gery.
Hy het twee verregse boere by die museum aangetref en Ratte se naam is toevallig laat val.
Mnr. Kollmitz het gevra vir sy nommer, maar die boere wou nie besgee nie.
Hy het hulle versoek om met hom in kontak te tree en vir hom te sê Jurgen Kollmitz wil hom kontak, wat een van die boere toe gedoen het.
“Tien minute later was hy op die foon,” vertel mnr. Kollmitz.
‘n Geruime ruk later is mnr. Kollmitz terug na die museum, waar hy dit in vervalle toestand gevind het.
Hy het Ratte geskakel en by hom gepleit om die museumskatte in sy sorg te laat, waartoe Ratte ingestem het, mits dit onder polisiebewaking gedoen word.
Ratte het die hulp van vertrouelinge in die polisie ingeroep en die dag vir die verwydering van die artikels is vasgemaak.
“Ek en ‘n groep vriende is een Saterdag met bakkies en sleepwaens deur om die artikels te laai, oral langs die plaaspad het Ratte vertrouelinge in die veld aangelê met wapens, en Ratte self het later ook sy verskyning gemaak,” vertel mnr. Kollmitz.
Hy het Ratte omgepraat om saam met die trek Middelburg toe te kom, maar Ratte op ‘n openbare pad was net té gevaarlik, en ompaadjies moes gery word.
“Dit het op dié stadium nie goed gegaan met Ratte nie, en ek het sy tenk vol petrol gemaak, en hom oornagplek gebied aan my huis, waar Willem die nag oorgeslaap het,” sê mnr. Kollmitz.
Die volgende dag is Ratte weer fort, maar sedertdien is hulle egter gereeld in kontak.
Lees vorige berig hier:
“Ek probeer al die afgelope week vir Willem in die hande kry, sonder sukses, en ek vermoed hy’s iewers in Namibië,” sê mnr. Kollmitz.
“Dis eintlik irrelevant waar Willem is, die museum artikels is in my sorg en ek het my woord gegee dat ek dit veilig sal bewaar,” sê mnr. Kollmitz. “Willem Ratte wil nie gevind word nie”.
Plaaslike historikus, me. Yolandi van Rooyen, is deur die Observer genader om mnr. Kollmitz behulpsaam te wees met die verwydering van die artikels.
Daar word egter nog vir veilige stoorplek van die Afrikaner volksgeskiedenis skatte gesoek.
Mnr. Kollmitz het reeds kontak met die Moths gehad om te reël vir die verwyderings.
“Mens kan nie dié skatte net verkwansel nie, die volkswaarde oortref stoorkostes,” meen mnr. Kollmitz.
Die Moths het bevestig dat twee persone, waaronder mnr. Kollmitz, op verlede week se kennisgewing reageer het.
• Indien jy wil help om die Ratte skatte te bewaar, skakel Gerhard Rheeder by die Middelburg Observer by 013 243 1434.

