Dwelmslaaf verkoop dit vir geld
Boere wat langs Uitbreiding 24 en Rockdale boer, voer 'n opdraende stryd teen 'n oorweldigende golf misdaad wat dreig om hulle lam te lê.
Een so boer is Johan Klopper wat vir Dirk Uys boer op grond wat aan Rockdale en Uitbreiding 24 grens.
Daar word daagliks drade reggemaak en betreders verwilder. ‘n Splinternuwe draad wat om ‘n mielieland gespan is, is vir honderde meters verwoes. Die draad is nie eens gesteel nie, dit is bloot geknip en in die veld neergesmyt sodat voetgangers wat die mielieland wil stroop nie nodig het om met hul buit deur ‘n grensdraad te sukkel nie.
“Wat doen jy as mense so maak?” vra ‘n moedelose mnr. Klopper terwyl hy na die bondels splinternuwe draad in die gras wys.
Hy het verlede Vrydag, 15 April, op drie mieliediewe afgekom. Een het daarin geslaag om weg te hardloop, maar twee verdagtes is deur hom en sy werkers vasgekeer.
Die een verdagte het erken dat hy nyaope rook en gesê hy steel die mielies om dit weer te verkoop vir ‘n inkomste, die ander een het beweer dat hy die mielies as kos vir sy hoenders steel en dat hy net een sak op ‘n slag vat.
Mnr. Klopper het aan die boewe probeer verduidelik dat elke dief meen hy vat net een sakkie koppe uit ‘n reuse land, maar dat daar nou so baie mense is wat elk ‘n sak kom haal, dat hulle die lande se wins wegdra.
Mnr. Klopper het die polisie gebel om ‘n saak te open. Na drie ure se wag in die bloedige son, het twee polisie offisiere uiteindelik opgedaag. Mnr. Klopper, wat vlot Zulu kan praat, het sy lot by die manne in blou bekla.
Een van die polisiemanne op die toneel het kwaai geraas met die twee kwaaddoeners en hulle na ‘n ruk beveel om agter in die vangwa te klim.
Daarna het hulle vir mnr. Klopper gesê dat dit nie nodig is om ‘n saak te open nie omdat hy sy eiendom, drie sakke mieliekoppe, terug gekry het. Mnr. Klopper het ingestem en die mieliediewe gewaarsku dat hy nou hul gesigte ken en hulle nie weer op sy plaas wil sien nie.
Hy het kort daarna van plan verander en die polisie voertuig voorgekeer voor hulle kon wegry om ‘n klag te lê.
Dit is van uiterste belang om misdrywe soos diefstal aan te meld. As dossiere nie geopen word nie, sal die polisie bestuur, wat moet besluit waar operasies gedoen moet word, wat prioriteitsmisdade is en watter misdaadneigings daar is, bloot onbewus voortgaan om hulpbronne elders aan te wend.
Mnr. Klopper skat dat daar minstens tien sakke mielies daagliks uit die mielieland gedra word. Dit is ‘n beraamde 15 ton wat maandeliks weggedra word om vir ‘n informele hoenderboer se diere te sorg, of om vir ‘n dwelmslaaf geld vir ‘n nyaope zol te gee. Mielies sal in Mei R4 400 per ton kos, wat beteken dat sy boerdery maandeliks R66 000 van die winsgrens moet afsny. Geld wat letterlik verdamp.
Dit is nou buiten vir die vier dragtige koeie, met ‘n beraamde waarde van R32 000, wat in die afgelope paar weke by hulle geslag is.
Een so koei is met ‘n panga gekap terwyl sy besig was om te kalf.
By Cobus Boshoff, mnr. Klopper se buurman wat ook langs Uitbreiding 24 boer, is daar ook in die afgelope tyd vier beeste geslag. Hy reken sy skade op sowat R24 000.
Landbou kundiges waarsku dat stygende kospryse diefstal dieselfde koers sal laat inslaan. As owerhede nie daadwerlkik tot die geveg teen misdaad op plase toetree nie, en as oortreders nie meer as ‘n tik oor die vingers kry nie, sal boere hulle moet regmaak om weer ‘n spreekwoordelike Drakensberge kaalvoet oor te steek.
Alhoewel mnr. Klopper ‘n saaknommer gekry het, is dit onduidelik of die twee verdagtes in die hof verskyn het omdat die Middelburg polisie se kommunikasie kantoor nie op media navrae geantwoord het nie.

