(Grafiese Inhoud) Opvolg: In hospitaal verneder ‘soos ‘n boemelaar’
'Hulle het my ma stadig, stukkie vir stukkie, vermoor!" Dit is was die emosionele woorde van me. Regina Dercksen nadat haar ma, Bets Claassen (77), Sondag in die Middelburg Hospitaal gesterf het aan septisemie.
Dié siekte wat veroorsaak is deur bedsere wat oor haar hele lyf gevorm het.
“Die woord ‘hospitaal’ is veronderstel om jou hoop te gee om gesond te word. As jy egter jou geliefde inteken by dié hospitaal, kan jy maar begin afskeid neem!”
Daar is die afgelope paar weke verskeie kere geskryf oor die agteruitgang van me. Claassen.
Sy het op 3 Februarie geval en haar dogter, Gerda Hendriks, is nog saam hospitaal toe.
“Daar was nie ‘n merkie op my ma se lyf nie.” Hospitaalpersoneel het vir hulle gesê dat me. Claassen met ‘n bedseer by die hospitaal aangekom het.
Eers was dit net ‘n klein rooi merkie op haar een boud. Binne enkele dae het dit een groot rou seer geword. Later het dit teen haar binnebene af versprei.
Op die dag van haar dood was haar liggaam oortrek van rou bedsere, van haar boude tot by haar voete, haar skouer, haar rug en op haar bors. “My ma het nie boude oorgehad nie!
Dis alles weggevreet met die bedsere! Toe hulle die gewig van haar voet afhaal toe sy dood is, het die velle saamgekom.”
Wat hulle nooit sal vergeet nie is dat brommers en vlieë sowat ‘n week voor haar dood op haar begin sit het en dat me. Hendriks dit met ‘n handdoek moes wegwaai.
Sondag moes sy muggies verjaag en miere wat aan haar ma vasgebyt het.
Me. Dercksen onthou dat haar ma ‘n paar keer melding gemaak het dat sy moes kyk, want dit voel vir haar asof iets haar byt.
Hospitaalpersoneel het hulle egter verbied om hul ma te draai, gemaklik te maak of net ‘n kussing onder haar kop te sit.
“Die dokter wat haar kom dood verklaar het, het vir ons gevra: ‘hoe is dit moontlik vir ‘n hospitaal om ‘n persoon te laat doodgaan soos dit?”
Me. Dercksen sê haar ma was ‘n statige vrou, maar dat “die hospitaal haar die hele tyd verneder het en laat doodgaan het soos ‘n boemelaar.
Dit is ‘n méns waarmee hulle werk!”
• ‘n Lykskouing het bepaal dat me. Claassen dood is aan septisemie.
• Me. Jermina Reneiloe Marakala (Direkteur Generaal Ondersteuning, Kantoor van die Premier, Mpumalanga Kantoor) het aan die Observer gesê dat daar opdrag gegee is aan die Direkteur Generaal se kantoor dat die Mpumalanga Gesondheidsdepartement die saak moet ondersoek.
Die Observer het hul kantoor Maandag in kennis gestel dat me. Claassen oorlede is.
Me. Marakala het Woensdag gesê dat hulle wag vir die verslag en dat hulle dit aan die koerant beskikbaar sal stel, sodra hul kantoor dit ontvang het.
Lees vorige stories hier:
Lees hier oor ander klagtes teen die hospitaal.
• Lees die Middelburg Polisie se kommentaar na aanleiding van die familie se bewerings dat daar Maandag op hulle geskree is toe hulle ‘n saak van nalatigheid wou open.
Daar is egter dieselfde dag nog ‘n geregtelike doodsondersoek aangevra en die saaknommer vir die familie deurgegee.
• Me. Claassen se lewensverhaal verskyn elders.


