Inwoners gedreig met boetes, tronkstraf
Dis Jan Alleman teen Statistieke Suid-Afrika, en die dreigbriewe wat tans by huise afgelewer word vir mense wat weier om aan die landwye opname deel te neem, help Statistieke SA van die wal af, die sloot in.
“Ek stel nie belang in die regering, of die inligting wat hy oor my bestaan probeer inwin om sy houvas te beplan nie,” sê een ontstoke inwoner wat Sondag ’n dreigbrief teen sy hek gekry het.
Hy sê daar is Saterdag by hom aangeklop en dat hy die mense die trekpas gegee het.
Sondag was hulle weer terug om die brief op sy hek vas te plak.
Die man is eers DA kantore toe met die brief om te hoor wat hom te doen staan, maar omdat dit ’n nasionale opname is, kon geen inligting plaaslik ingewin word deur DA amptenare nie.
Hy is hierna hof toe waar hy die brief aan ’n aanklaer gewys het.
“Daar is vir my gesê dat dit my keuse is of ek wil deelneem of nie, en indien die brief dan so wettig is soos wat Statistieke SA voorgee, moet ek mos persoonlik ontvangs erken, my verweer is nou dat die wind hom weggewaai het,” koggel die man. Hy hou egter voet by stuk en sê wat in sy huis aangaan, het niks met die regering te doen nie.
Volgens die brief, is almal egter verplig om vir die onderhoudvoerders oop te maak, en alle vrae te beantwoord.
Volgens me. Gloria Montjane, Statistieke SA se Nkangala koördineerder, het hulle begrip vir inwoners se vrese.
“Ek sou self skepties wees as ’n vreemdeling aan my deur kom klop, maar die opname is bo verdenking,” sê sy.
“En dis beslis nie net die wit gemeenskap wat moeilik is nie, ons kom dit oral tee,” sê me. Montjane.
Die opname moes reeds die 22ste afgehandel wees, maar omdat links en regs die deure in die onderhoudvoerders toe klap, is dit met nog ’n week verleng, tot 6 Mei.
Me. Montjane sê Statistieke SA se mandaat word vervat in die Statistieke Wet 6 van 1999, waarin gewaarsku word dat boetes van tot R10 000, en gevangenisstraf van tot ses maande opgelê kan word, vir dwarstrekkers.
Die man is 24-uur gegee om ’n opvolg besoek te reël met onderhoudvoerders. “Hulle kan aan ’n ander deur gaan klop,” sê die man.
Volgens me. Motjane word die hele gemeenskap nie ondervra nie, en het Statistieke SA net hier en daar eiendomme gekies. Komplekse is ook besoek. Die mikpunt is om 1,3 miljoen huishoudings te ondervra.
Die gemeenskapsopname is laas in 2007 gedoen en is ’n voorloper tot Sensus 2021.
Die doelwit is om huishoudelike statistieke op plaaslike regeringsvlak by mekaar te maak vir die regering, vir beplanningsdoeleindes.
