NewsUpdate

Liggaam vol gate weens bedsere

Die polisie gaan nie die omstandighede rondom Bets Claassen se dood ondersoek nie, omdat die doodsertifikaat aandui dat sy aan natuurlike oorsake gesterf het.

Me. Bets Claassen het op 17 April in die Middelburg Hospitaal gesterf, terwyl miere aan haar gebyt en brommers en muggies om haar gedraai het.

In die week voor haar dood, het sy só gestink weens die infeksie in die bedsere dat mense naar geword het.

Haar kinders het ‘n week nadat sy opgeneem is, die begin van die eerste bedseer opgemerk en begin vrae vra, maar dit is met aggressie deur verpleegpersoneel beantwoord.

Vele kere wou hulle haar skuif, maar hulle is verseker dat die bedsere gesond gedokter kan word. Hul ma se gebreekte heup waarvoor sy in die hospitaal opgeneem is, het ook nooit aangegroei nie, maar sy kon nie geopereer word alvorens die bedsere nie beter geword het nie.

Haar boude het “weggevrot” en oral op haar lyf het nuwe bedsere hul verskyning gemaak. Bedsere, wat, volgens ‘n verpleegkundige (wat anoniem wil bly) gesond gedokter kon word.

Sy het uiteindelik gesterf aan septisemie weens die bedsere.

Haar dogter, Regina Dercksen, voel dat die hospitaal haar “stukkie vir stukkie vermoor het.”

Haar kinders het dadelik na haar afsterwe ‘n saak van nalatigheid teen die hospitaal by die polisie aanhangig gemaak.

Volgens kapt. Khanyisile Zwane (mediawoordvoerder) ondersoek hulle nie sake waar ‘n doodsertifikaat aandui dat iemand aan natuurlike oorsake dood is nie.

Sy het gesê dat indien die familie steeds vuilspel vermoed en ‘n tweede opinie wil kry, hulle ‘n privaat dokter, gewoonlik ‘n professor, kan huur, wat sy eie lykskouing sal doen. Die familie moet dan ook self vir so ‘n lykskouing betaal.

As hierdie persoon op sy lykskouings-verslag aandui dat die persoon dood is aan onnatuurlike oorsake en die oorsaak van die dood aangedui word, sal die polisie dan die saak verder kan ondersoek.

• Me. Jermina Reneiloe Marakala (Direkteur Generaal Ondersteuning, Kantoor van die Premier, Mpumalanga Kantoor) het verlede week aan die Observer gesê dat hulle opdrag gegee het dat die Mpumalanga Gesondheidsdepartement die saak moet ondersoek. Sy het gesê dat hulle wag vir die verslag en dat hulle dit aan die koerant beskikbaar sal stel, sodra hulle dit ontvang het.

• Mnr. Eric Mokonyama, Mpumalanga Provinsiale Bestuurder, Menseregtekommissie, het by navraag gesê dat hy die kwessie onder die aandag van die Hoof van die Departement van Gesondheid in die provinsie gebring het. Hy het gevra dat daar ‘n ondersoek gedoen word oor die omstandighede van die saak en dat daar ook gekyk word na die standaard van die algemene gesondheidsdienste by die Middelburg Hospitaal.

• Lees elders die skokkende bewerings wat mnr. Pieter Wahlstrand se familie maak rakende sy afsterwe in die Middelburg Hospitaal en die omstandighede rondom mnr. Frank Theron se dood by die HA Grové Hospitaal op Belfast.

Lees vorige stories hier:

Vrou lankal dood – Verpleegster sê: ‘vital signs are good’

Vrou se bedsere vrot

Vrou deurtrek van bedsere

Lees hier oor ander klagtes teen die hospitaal.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button