Koelboks moes baba beskerm teen jaende motoriste
Bekroonde skrywer en professor, Christina Landman en haar seun, Derek, was Maandagmiddag betrokke in ’n ongeluk op die N4 net voor die Hendrina afrit net buite Middelburg wat lewe van twee mense geëis het.
Prof. Landman is die direkteur by die navorsings instituut vir teologie en geloof by die Universiteit van Suid-Afrika.
Sy is veral bekend vir haar omstrede uitsprake oor die kerk,
Sy het op die toneel vertel hoe die ongeluk voor hulle afgespeel het. Hulle was op pad terug na Pretoria van Dullstroom af, waar sy eenmaal per maand kerk hou in die informele nedersetting.
’n Sleepwaentjie van ’n taxi het skielik na regs beweeg en reg voor aankomende verkeer beland. Dit het trompop met ’n Volkswagen motor gebots. ’n Ma (24) en haar vyf maande oue baba is op slag dood. Die baba is deur die voorruit geslinger. Nog ’n vrou is hospitaal toe geneem met ernstige beserings.
Die waentjie se as en wiele het met die slag los gekom en op die enjinkap van prof. Landman se Toyota Corolla beland. Nie sy of haar seun is in die voorval beseer nie. Haar motor is egter onherstelbaar beskadig.
Sy het op die toneel gesê dat sy en haar seun dalk ’n ander lot in die gesig sou staar, as die as en wiele haar voorruit eerder as die enjinkap getref het.

Motoriste het soos besetenes tussen die liggame en wrakstukke deurgery om nie opgehou te word by die ongelukstoneel nie.
Iemand het op die toneel ’n koelboks oor die baba se liggaam gaan sit om dit te beskerm teen die jaende motoriste.
Die pa en man van die twee oorledenes het kort daarna op die toneel aangekom. Hy was hewig ontsteld en nooddienste het ’n kapelaan na die toneel ontbied om hom by te staan.
Hy het aanmekaar geprewel: “They took my wife, they took my kid, I have nothing left.”
’n Foto wat op die toneel van die taxi geneem is, dui daarop dat die waentjie moontlik met draad vasgebind was.
Kaptein Khanyisile Zwane van die Middelburg polisie, kon nie voor druktyd kommentaar lewer oor inligting op die ongeluksverslag nie.
•Die name van die oorledenes was nog nie bekend nie.
Lees verwante stories hier:
Update: Six die after horrer accident
