News

Opvolg: ‘Dit lyk soos plaasmoord’

Dit het “gelyk soos ’n plaasmoord!” So beskryf ’n prokureur die wonde aan Bets Claassen se liggaam, nadat sy in die provinsiale hospitaal gesterf het.

Me. Claassen se seun, Sankus Smit, het foto’s van haar beserings wat na haar afsterwe geneem is, aan die prokureur gestuur.

Mnr. Smit het gesê dat al sê ’n doodsertifikaat dat sy ma dood is is aan “natuurlike oorsake”, hy dit beslis “nie hier gaan los nie”.”

Me. Claassen het op 17 April in die Middelburg Hospitaal gesterf en die doodsertifikaat het aangedui dat sy dood is aan sepsis (ook septisemie genoem). Die sepsis is veroorsaak deur bedsere.

In die dae voor haar dood moes haar kinders brommers by haar bed met ’n waaiende handdoek wegjaag. Kort voor sy gesterf het, het haar dogter, Gerda, muggies verjaag en miere wat aan haar ma se lyf vasgebyt het, afgehaal.

Haar kinders het geweet van die bedseer op haar boud, omdat hulle aan die begin self probeer het om dit te dokter. Later het hospitaalpersoneel geweier dat hulle die wonde versorg.

“My ma het oral bedseergate op haar lyf gehad. Dit het gelyk of sy deur ’n slagting was! In plaas van behandeling, was dit mishandeling in hierdie hospitaal! Hoe kan dit natuurlik wees? Dit is moord!” het mnr. Smit uitgeroep.

Nadat hy verneem het dat die polisie nie die saak van nalatigheid kan ondersoek nie, omdat sy dood is aan “natuurlike oorsake”, het hy aanvanklik besluit om haar te laat opgrawe.

Die mediabeampte van die polisie, kapt. Khanyisile Zwane, het voorgestel dat hulle ’n onafhanklike patoloog kry om ’n lykskouing te doen. Sou dié lykskouingverslag meld dat me. Claassen nié aan natuurlike oorsake dood is nie, kan die polisie dan weer die saak ondersoek.

Mnr. Smit sê hy het ook reeds kwotasies gekry vir ’n patoloog en wat die wetlike aspekte is ten opsigte van ’n opgrawing.

Hy sê hulle het op hierdie stadium daarteen besluit, aangesien hulle baie foto’s het wat haar beserings aandui.

“As ’n landdros of regter hierdie foto’s moet sien, sal hulle hul hande saamslaan! Hulle sal duidelik kan sien dat dit nié natuurlik is nie!”

Hy raak hartseer as hy dink hoe hard sy in die gemeenskap gewerk het en hoe lief sy vir haar kinders was.

“Ons het eers ná haar dood gesien deur watter lyding sy is. En weet jy wat is die ergste? As sy nie bedsere en sepsis gekry het nie, sou sy nie doodgegaan het nie. My ma het dit nie verdien nie!”

• Me. Jermina Reneiloe Marakala (Direkteur Generaal Ondersteuning, Kantoor van die Premier, Mpumalanga) het drie weke gelede reeds aan die Observer gesê dat hulle opdrag gegee het dat die Mpumalanga Gesondheidsdepartement die saak moet ondersoek. Sy het gesê dat hulle wag vir die verslag en dat hulle dit aan die koerant beskikbaar sal stel.

Tot op hede het die koerant nog nie weer van hul kantoor gehoor nie.

Lees vorige stories hier:

Opvolg: Bets – die statige ouma skou

Vrou lankal dood – Verpleegster sê: ‘vital signs are good’

Vrou se bedsere vrot

Vrou deurtrek van bedsere

Lees hier oor ander klagtes teen die hospitaal.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button