Pa, drie kinders, sonder skrapie uit wrak
Terwyl Schalk Lötter en sy drie kinders rondgeslinger is in sy rollende Pajero, het net die Bybel op sy plek bly lê.
Nadat die Pajero 80 meter verder wal af tot stilstand gekom het, het die Bybel steeds in die konsole gelê, terwyl die bosse rondom die wrak, besaai was met hul besittings.
Schalk, sy seuns Christi (9) en Malan (4), en dogter Talita (2), was Maandag omstreeks 12:00 onderweg na Middelburg van ‘n langnaweek uitstappie by Serengeti, duskant Groblersdal.
Ongeveer 400 meter duskant Loskopdam se wal, het Schalk ‘n sekonde na agter gekyk en een van sy kinders berispe.
Toe hy terugdraai, was sy bande klaar op die stofskouer, wat die 4X4 sleepwa onbeheerbaar laat gly het.
Schalk, sy kinders, die Pajero en die sleepwa, het gekantel en 80 meter by die wal langs Loskopdam begin afrol.
In ‘n oomblik van chaos, het Schalk egter kop gehou, en Malan net betyds teruggepluk, voordat hy by die Pajero se sondak uitgeslinger is.
Toe die Pajero tot stilstand kom, het hy dadelik na sy kinders begin soek.
Malan en Christi het groot-oog uit hul sitplekke vir hom geloer, maar Talita was skoonveld.
Na ‘n kort soektog, is sy knus tussen komberse en kussings toegedraai, agter in die bakkie gekry.
Al vier het sonder ‘n skraap uit die afgeskryfde Pajero geklim. Van die luukse 4X4 sleepwa is daar ook niks oor nie.
Die skade van R250 000 word egter oorskadu deur die wonderwerk van lewe: “Prys God! Sy hand was oor ons”.
Vyf minute later het Schalk se pa Christi, en sy vrou Cora, by die toneel gestop.
In die afwesigheid van die kinders se ma, Zillika, het personeel en besoekers aan Loskopdam, Pentagon Security, en twee onbekende dokters wat toevallig daar verby gery het, hulp verleen.
Die dokters het dadelik die kinders ondersoek, maar daar was geen ernstige beserings nie.
Van Wettens het die opruimings op die toneel behartig.
Die hegte gesinnetjie was die week bietjie lyfseer, maar Dinsdag was al drie Löttertjies terug by die skool.
“Ek wil almal net uit my hart uit bedank vir die bystand, ook die SAPD,” sê Schalk.


