Video: Wie steel so baie hekmotors?
Die vlaag diefstalle van hekmotors oor die afgelope twee weke het die vermoede laat ontstaan dat 'n groter misdaadsindikaat dalk by die diefstalle betrokke is.
Tien slagoffers het op die Middelburg Observer se Facebook groep laat weet dat hul hekmotors in die laaste 14 dae verdwyn het. Meeste van die diefstalle het in Mineralia en Groenkol plaasgevind.
Riaan van Staden het ‘n foto opgelaai wat wys hoe sy hekmotor se staalhok onaangeraak staan, terwyl die motor skoonveld is.
Om die motor uit die hek te kan steel, moet jy ‘n hekmotor ekspert wees, meen Eddie Louw van EJ Sollutions.
Mnr. Louw sê dat ‘n hekmotor enige iets van R3 200 tot R4 000 kos, dit is nou sonder die installasiefooi.
Hy beveel aan dat mense hul hekmotors onder hul huisversekering lys om hulself teen diefstal te beskerm. Die versekering sal vereis dat die motor met ‘n staalhak of in ‘n hok beveilig word.
Talle slagoffers was dit eens dat die hekmotors nie sommer deur enige hierjy gesteel word nie.
‘n Inwoner was in November 2014 gelukkig genoeg om sy hekmotordief op kamera vas te vang. Die videomateriaal wys hoe ‘n man by die hek rond sluip en dan by die motor buk. Die man is nooit geïdentifiseer nie.
A.o. Lize de Wit, polisiewoordvoerder, sê dat geen hekmotordiefstalle vir Meimaand aangemeld is nie.
Lees vorige stories hier:
Video: Dief op video vasgevang
